News

My ervaring in ’n dwelmnes

In ’n sloot, weggesteek tussen bome langs ’n treinspoor is dit nie die dwelmnaalde wat jou opval nie, maar die verskriklike stank.

Die reuk van menslike uitskeiding, want hulle is eenvoudig te ‘hoog’ om net ’n paar meter verder te loop.

Hierdie week gaan wys die Middelburg Dagpatrollie my waar daar honderde dwelmnaalde – pype en dwelms langs die spoorlyn gekry is.

Inwoners van veral Viljoenstraat kla al jare oor die dwelmnes.
Daar is ook vlymskerp messe by die verslaafdes gekry.

Ons stop in Gilfillanstraat, net links van die kruising in Viljoenstraat en durf ’n deurgetrapte paadjie aan.
Sommer aan die begin moet jy koets vir die brommers.

Die res van die roete is op die spoorlyn.

Skielik beduie die dagpatrollie se lede na links tussen die bosse, langs die spoorlyn.

Die bosse links van die spoor is waar die dwelmgebruikers bly.

Jy sien eers net die groot blare van die bos raak, maar dan die effense blou van ’n skuiling onder die blare.

Dat een van die verslaafdes nog nie half dood teen die skuinste lê met ’n gebreekte arm of been nie, slaan jou dronk, want jy moet behoorlik aan graspolle klou om tot by die ‘nes’ self af te klouter.

Die hele tyd is die menslike uitskeiding in jou neus, die vuil van te min bad, die urine.

In die middel van die blyplek gaan ek staan en draai stadig in die rondte.
Kry ’n gewaarwording wat elke nag op die omgekeerde blikke gedoen word.

Aanstekers hier en daar ’n vuil dwelmnaald, koeldrankproppies, pypies, vuurhoutjies.
Vuil klere lê in bondels om die blikke en plekke waar die vorige nag se vure gebrand het.

Is dit hier waar hulle omval wanneer die warm vloeistof in die aar brand en die brein benewel?
Wat sien hulle dan as hulle op hul klerebed op die grond lê en die nag in tuur?

Maak die vuur drogbeelde? Of is dit die blare van die bosse wat saam met die dwelmdraak die donker in spoke verander.

Dan is dit tyd om uit die gat te klim – verligting spoel oor my skouers.

Vir ’n laaste oomblik loer ek terug, verbeel my…die blare van die bos lyk soos ’n kwaai draak wat ons dorp se kinders daarheen wil lok.

•Die Middelburg Dagpatrollie kom bykans elke nag in stegies, langs die treinspoor en onder brûe op mense af en in ál die gevalle is daar dwelms, dwelmnaalde en dwelmpype.

@middelburgobserver

In die middel van ’n dwelmhool

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button