News

Vierde plaasmoord in provinsie deur VF+ veroordeel

Mpumalanga is ’n duidelike brandpunt wat plaasaanvalle aanbetref sê die VF+.

In die jongste voorval is ‘n 80-jarige boer, mnr. Hennie van der Walt, gister in Dwarsfontein naby Delmas vermoor.
Dit was die vierde plaasmoord in Mpumalanga.

“Mpumalanga beleef die afgelope maande ’n ernstige toename in plaasaanvalle, met slagoffers wat hul lewe meestal op ’n brutale wyse verloor,” sê VF+ wetgewerslid Werner Weber.

“Die wyse waarop boere, plaaswerkers en hul families blootgestel word aan die ergste vorm van marteling, is onmenslik en mag nooit die norm word nie”.

Mnr. Van der Walt is die jongste slagoffer van die regering se onvermoë om sy landsburgers, minderheidsgroepe en verál boere te beskerm, sê mnr. Weber.

“Die antwoord is voor die hand liggend: Die oomblik wat die politieke wil ontstaan om landelike gebiede te beveilig en behoorlike strafmaatreëls in plek te stel, sal daar ’n drastiese afname in plaasaanvalle en moorde wees”.

Die provinsiale premier, Refilwe Mtsweni-Tsipane, se stilswye oor plaasmoorde stuur ’n duidelike boodskap aan die landbou-gemeenskap dat hulle geminag word, meen die party.

Die VF Plus het reeds ‘n dringende vergadering met haar belê, om landelike beveiliging te bespreek.

Die party doen opnuut ’n ernstige beroep op hierdie gemeenskappe om hulself te organiseer en weerbaar te maak.

“Elke boer moet betrokke raak by sy gemeenskap se veiligheidsplanne. Baie lewens is al gered met bestaande stelsels en opleiding”.

Radio-paniekstelsels, kommunikasiegroepe, kameras in en om huise, oorsig- en nommerplaatkameras in distrikte, honde binnenhuise, gemeenskapreaksiespanne en goeie kwaliteit heinings is ononderhandelbaar. Geen boer kan meer daarsonder nie.

“Die VF Plus sal alle moontlike druk uitoefen om toe te sien dat die moordenaars in hegtenis geneem en vervolg word”.

Bogtog vir die aanvallers sal ook teëgestaan word.

Die party spreek sy innige simpatie uit met mnr. Van der Walt se naasbestaandes.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button