Siener wat oor Willem bel sê “hy sien lig”
Die ondersoekspan wat leidrade opvolg na die verdwyning van die oud HTS Middelburg leerling en Groblersdal inwoner, Willem Kruger (29), word oorval deur sieners wat daarop aanspraak maak dat hulle weet waar Willem is.
Sedert die beloning vir inligting, wat sal lei tot sy opsporing, opgestoot is na R200 000, is daar ook al meer kansvatters wat beweer hulle het Willem se bakkie gesien.
Een persoon het gisteraand op sosiale media gesê “ek ry agter die bakkie, dis ’n swarte” en later weer “hy is by Limpopo Spar”.
Die inligting is deur ondersoekers opgevolg, maar dit was nie Willem se bakkie nie.
Mnr. Sakkie Louwrens (Bosveld Misdaad Ondersoeke) het vanoggend gesê dat hulle honderde oproepe kry.
Daar was verskeie mense wat gesê het hulle het die bakkie gesien.
As die bakkies nagespoor word, dan is dit net soortgelyk aan Willem se bakkie, maar nie syne nie.
Hy en privaat speurder Mike Bolhuis se span word ook oorval deur sieners wat inligting wil deurgee.
Mnr. Phil Vermeulen van die Bolhuis ondersoekers het gisteraand vertel dat hy deur ‘n siener gekontak is met die woorde: “Ek sien ‘n lig.”
Hy het omgekrap opgemerk dat “ons almal lig sien, maar dit bring ons nie nader aan antwoorde waar om Willem te kry nie!”
*Die soektog word vandag weer voortgesit in die Vaalrivier.
Die vloedwater is stadig maar seker besig om te sak en behoort teen die naweek so ’n vlak te bereik, dat die raaisel of Willem se bakkie dalk in die rivier is, opgelos behoort te word.
Enige inligting wat die span in hul ondersoek kan help, kan deurgegee word aan mnr. Louwrens by 071 798 7954 of mnr. Vermeulen by 082 604 4598.