Man beweer hy het Willem se bakkie gesien, maar dit loop uit op niks
'n Man het vandag op Facebook beweer hy het agter Willem Kruger se bakkie gery, maar tot op hede kon sy bewerings nie gestaaf word nie.
Niemand weet nog of dit ‘n persoon is wat ‘n kans vat en of dit wel die waarheid is nie.
Daar is vir Damian Desai, wat ‘n Facebook plasing gemaak het op die Standerton Chronicle se Facebookblad, ‘n inboks gestuur en het hy geantwoord.
Hy het gesê dat hy vanoggend agter ‘n Dakar bakkie gery het wat Willem se bakkie se beskrywing pas.
Hy het vir die joernalis verduidelik dat hy van Colchesters se kant af by Gquerberha (Port Elizabeth) ingekom het en die bakkie gesien het.
Volgens hom het die bakkie in die rigting van die Motherwell uitbreiding gery en dat ‘n VW Polo agter die bakkie gevolg het.
Mnr. Desai het genoem dat daar ‘n man in die middel agter gesit het, met ‘n blou T-hemp aan.
By navraag waarom hy nog nie die ondersoekers gebel het nie, het hy gesê dat hy sukkel om die naaste polisiestasie in die hande te kry.
Albei ondersoekers se nommers is vir hom gegee en het hy kort daarna gemeld dat een van hulle hom reeds gekontak het.
Mnr. Sakkie Louwrens (Bosveld Misdaad Ondersoeke) het ook die plasing op Facebook onder oë gehad en het reeds met die persoon via inboks kontak gemaak.
“Damian” het ‘n selnommer vir die joernalis gegee en dit is ook vir die ondersoekers aangestuur.
Hy het vir die joernalis vir ‘n saaknommer gevra, “want die polisie van Port Elizabeth soek eers ‘n saaknommer voor hulle voertuie wil uitstuur Motherwell toe.” Die joernalis het weereens vir hom gesê dat hy met die ondersoekers moet praat.
Die ondersoekers het in die laaste week al talle leidrade opgevolg, wat elke keer nog op niks uitgeloop het nie.
Hulle het egter aangedui dat alle inligting opgevolg word.
Mnr. Louwrens het gemeld dat hy “in kontak was met hom,” maar het nie verder uitgebrei nie.
Mnr. Phil Vermeulen (Mike Bolhuis se span) het aangedui dat ook hulle die inligting beslis sal naspoor.
“Ons kry van oraloor af oproepe. Daar is byvoorbeeld mense wat sê hulle het hom naby Malelane op die N4 gesien en ons is besig om al die veiligheidskameras op die roete na te gaan.”
Hy het pas gesê dat hulle steeds besig is om die inligting wat verskaf is op te volg, “maar daar is ongelukkig nog niks positief sover nie.”
Persone wat nuwe inligting kan verskaf, moet mnr. Louwrens bel by 071 798 7954 of mnr. Vermeulen by 082 604 4598.
