News

Bakkiespore en badsakkie wys Willem waarskynlik met bakkie rivier in

Bakkiespore in die Vaalrivier in en ’n badsakkie wat aan Willem Kruger behoort dui daarop dat hy in die rivier ingery het.

Mnr. Sakkie Louwrens (Bosveld Misdaad Ondersoeke) het pas bevestig dat daar bakkiespore gevind is.

Hy sê dat hy ’n meganiese ingenieur gekry het, wat spesialiseer in die rekonstruksie van ongelukke, om te kyk na die area langs die rivier by die Henbase Lodge, waar hulle vermoed Willem moontlik in die rivier beland het.

“Na aanleiding van sementgedeeltes by die karavaanpark wat gebreek is en die spore, wat presies dieselfde is as die tipe bakkie wat Willem gery het, dui aan dat hy wel in die rivier beland het die nag van sy verdwyning,” sê mnr. Louwrens.

Hy het genoem dat daar gister ook ’n badsakkie gevind is.

Alhoewel die meeste groepe soos die duikers reeds van die rivier af onttrek het, het mnr. Louwrens gemeld dat hy en sy span steeds die area fynkam.
Met die nuwe inligting tot hul beskikking, gaan al die spanne hulle nou weer toespits op die Vaalrivier.

“Ons glo almal, soos die duikers, sal more weer terug wees om voort te gaan met die soektog. My persoonlike opinie is dat die Vaalrivier die geheim hou en dat die bakkie in die rivier is.”

•Mnr. Louwrens het genoem dat hy pas ’n lang vergadering met Willem se familie gehad het rakende die nuwe inligting.

 
Back to top button