Die man wat “deur die aarde ingesluk is”
Het in September 1975, tydens die skoolvakansie, by die koerant gewerk. Daardie selfde maand, op 8 September 1975, klim Gideon Nel op die Ferrometals personeelbus met sy kosblikkie.
Ferrometals (FMT) is een van die grootste ferrochroom aanlegte in die wêreld en ’n paar kilometer buite die dorp.
Die middag het sy kollegas nie agtergekom Gideon (45) is nie op die bus nie.
By sy huis in Dordrechtstraat 26 het sy vrou, Nelsie, geduldig gesit en wag, tevergeefs gewag.
Toe hy nie die nag huistoe kom nie, het sy begin rondbel.
Die saak beland uiteindelik by die speurtak waar Giel van Antwerpen, wat twee wedstryde vir Suidoos-Transvaal se rugbyspan gespeel het en Piet Etsebeth, gevra word om na die omstandighede van sy verdwyning te kyk.
Het na die laaste matriekvraestel op 3 Desember 1975 weer by die koerant ingeval en die spoor gevat van “Gidie”, soos sy vriende hom genoem het.
Elke jaar vir Nelsie gebel.
Verskriklik skuldig gevoel, want dit was so asof jy weer die wonde van haar man se verdwyning oopruk.
Nelsie was altyd vriendelik en behulpsaam en het die feite geduldig herhaal. Sy het vir Gidie ’n kosblik gepak, hy is werk toe op die bus, maar het nie weer teruggekeer nie. Nooit weer nie. “Dit was asof die aarde hom ingesluk het”.
Tot haar dood het Nelsie in die Dordrechtstraat huis gebly, wou nie wegtrek nie want dalk, dalk net, daag Gidie eendag op.
Het ook gereeld sy broer Fielie gebel, wat by Volks Meubileerders gewerk het.
Hy het ’n R100 beloning aangebied, wat daardie jare baie geld was.
Net soos in die geval van Willem Kruger, wat nou al nege dae weg is, het talle kansvatters navore gekom. Elke keer het die familie se hoop opgevlam, om maar net weer gepynig te word dat dit gewetenlose bedrieërs is, wat net die R100 soek.
In Willem se geval bied sy familie R200 000 as beloning aan.
Verskeie mense het ook al beweer hulle het Willem se bakkie gesien, wat telkens op niks uitgeloop het nie.
Toe Fielie en Nelsie albei oorlede is, sy broerskind, Freddie Nel, gebel wat elke jaar bevestig het dat dit gelyk het asof ’n groot hand Gidie van die aarde af weggepluk het.
Daar was bespiegelinge dat hy in een van Ferrometals se oonde geval het, maar dit het net by bespiegelinge gebly.
Daar is ook in die omgewing van die fabriek, in ’n vleigedeelte, tevergeefs na hom gesoek.
Nou is dit 47 jaar later, Gidie is steeds weg.
Oor die jare was daar in my loopbaan vele geheime:
Wie het Linda de Klerk vermoor en op die treinspoor gaan aflaai by Oosbank, net buite Witbank?
Wie het die sendeling, Tony Pinto, vermoor? Hy is op die Bethalpad dood gekry.
Wie het Willie Brase een nag op Kranspoort doodgeskiet?
Wie het Kas van Wyk op 22 Januarie 1996, om 01:19, by sy huis in Kanonkop vermoor?
Wie het Igna Nortje vermoor of laat vermoor?
Die grootste geheim bly steeds die verdwyning van Gideon Nel, “die man wat deur die aarde ingesluk is”.
’n Geheim wat seker nooit opgelos sal word nie.
Nou is Willem Kruger al nege dae weg.
Willem, die vriendelike hemelbesem.
Een van “ons” seuns, ’n oud HTS Middelburg leerling.
Daar was vanoggend reg oor die land gebede dat hy gekry sal word.
Wanneer?
Dit is die vraag…