Joernalis maak hart oop: Vyf kersies vir Willem
Maar toe die boodskap kom, was dit nie verligting nie, dit was ’n diepe hartseer.
Willem Kruger (29) het aan my hart kom raak.
Ek het vir hom en sy familie begin bid soos ek vir my eie kinders en familie sou bid.
Die jong man wat ek net by die naam geken het, het vir meer as ’n week deel van my wese, my lewe geword.
Hy is dan so oud soos my oudste kind!
As ma het ek die paniek van sy ouers, sy naastes, binne in my gevoel.
Waar sal hy wees?
Kan die stories wat sovele vertel het, dalk waar wees?
Kan hy dalk nog iewers wees?
En dan kom die boodskap:
“Ons hoor Willem en sy bakkie is in die Vaalrivier naby die Henbase Lodge gevind.”
Vir dae het vrywilligers met seer oë oor die rivier getuur vir enigiets wat hul nader aan hom sou bring.
’n Rivier wat meer as 100m breed gespoel het, wat in vloed was, wat geen sonar of tegnologie vir nege dae wou toelaat om die jong man te kry nie.
Dinsdag het ek nie net een nie, maar vyf kersies aangesteek.
Gebid in my gedagtes: “Liewe Heer, kan u nie asseblief dat hulle vandag vir Willem kry nie. Asseblief my liewe Vader. Nie vir my nie, nie vir duisende ander daarbuite nie, vir sy Ma en Pa.”
Maar toe die boodskap kom, was dit nie verligting nie, dit was ’n diepe hartseer.
En dan kom die boodskap wat ek Vrydag by my oom se begrafnis gehoor het duidelik in my gedagtes op.
Die boodskap wat ’n professor eendag vir sy studente gegee het.
“As julle in die koerante lees dat ek dood is, moet dit nie glo nie, want ek sal nie dood wees nie. My Ewige Lewe het begin.”
Tot wedersiens Willem, mag ons mekaar eendag in die hemel ontmoet.