News

Plaaswerkers kom tot varkboer se redding

’n Bekende varkboer op die ou Belfastpad kan homself gelukkig ag dat ’n skoot wat ’n plaasaanvaller vanoggend afgevuur het, hom nie getref het nie.

Die groep van ses booswigte het hulle as varkkopers voorgedoen en eers met plaaswerkers op die plaas Teutfontein (sowat 12km buite Middelburg) begin gesels.
Hulle het gevra waar die eienaar van die varke is, want hulle wil varke koop. ’n Werker het twee van die mans na mnr. Johan Pretorius geneem.

Mnr. Pretorius was nog besig om te onderhandel oor die prys, toe een van die aanvallers ’n wapen uitpluk en op hom rig.
Hulle het gevra waar die kluis is en het ook geld geëis.

’n Stoeiery het ontstaan tussen mnr. Pretorius en die man met die wapen en ’n skoot is afgevuur. Mnr. Pretorius is gelukkig nie getref nie.

Na wat verneem word het ’n kind, wat naby mnr. Pretorius gestaan het, alles sien gebeur en gehardloop na die ander werkers toe op die plaas om hulp te gaan soek.

Die werkers het aangehardloop gekom en die twee aanvallers, wat probeer weghardloop het, ingehardloop, oorrompel en op die grond vasgepen.

Hulle het later die twee booswigte en ’n wapen aan die polisie oorhandig.
Die twee sal na alle waarskynlikheid more in die hof verskyn.

•Daar is gesê dat die rowers op die plaas opgedaag het met ’n rooi bakkie met wit gedeeltes aan die kante.

Die vier ander boewe het in die rooi bakkie gevlug, toe hulle sien hul makkers word vasgetrek. Hulle is steeds op vrye voet.

 
Back to top button