Afperser wou Willem se verdwyning misbruik
Tientalle ondesoekers moes deur honderde brokkies inligting en selfs ’n persoon wat hom voorgedoen het as ’n afperser, se dreigemente sif, in die tyd voor Willem Kruger en sy bakkie in die Vaalrivier gevind is.
Mike Bolhuis en sy span was deel van die groepe ondersoekers wat nie ’n steen onaangeraak gelos het om by die waarheid uit te kom nie.
In ’n onderhoud met mnr. Bolhuis hierdie week rakende hul ondersoek saam met al die ander ondersoekers, het hy gesê dat ál die ondersoekers “van dwarsoor die land saamgewerk het. Almal se doel was om Willem te vind.”
Hy het sy meegevoel met die Kruger familie betuig. “Ons gebede gaan met die familie. Dit was ’n tragedie. Ons bid vir wysheid en voorspoed vir hulle en dat die Here God hulle barmhartig sal wees.”
Mnr. Bolhuis het gemeld hoe trots hy op elke persoon is wat toegetree het tot die soektog en ondersoek die oomblik wat hulle die Vermiste Persoon-projek geplaas het.
“Dit het soos ’n veldbrand versprei. Daar was honderde ondersoekers en mense wat saamgewerk het en almal moet onder dieselfde kam geskeer word. Vir elke polisieman, duiker, ondersoeker en persoon op land wat help soek het, moet ons dankie sê. Van die nuutste tegnologie is ook aangebied om te gebruik.
“Dit wat gebeur het is tragies. Daar was groot belangstelling gewees en mense is emosioneel. Hulle lees soms nie mooi nie, en ek sê dit met die grootste deernis.”
Hulle waardeer ook al die oproepe, aangesien mense opgelet het na voertuie wat soos Willem se bakkie gelyk het.
Alhoewel al die ondersoekers 99% seker was dat die bakkie in die Vaalrivier was, wat sterk in vloed was, het hy en sy span egter wel elke leidraad wat ingekom het, nagevolg.
“As iemand gesê het hulle het die bakkie gesien, het ons al die kameras in die area nagegaan, van winkels en vulstasies, tot op roetes.”
Hulle het vir almal wat ingebel het, gevra om die presiese area te stuur en dan ook foto’s aan te stuur.
Natuurlik was daar nie
Daar het agt sieners mnr. Bolhuis se ondersoekspan gekontak.
“Ek skryf hulle nie af nie, ek luister na hulle en vra dan dat hulle die inligting dan per WhatsApp stuur en dan gee ek dit oor vir my ondersoekspan.”
Mnr. Bolhuis en Phil Vermeulen, wat saam met Jacques Visser deel uitgemaak het van die ondersoek, was omgekrap oor ’n persoon wat die hartseer gebeure rondom Willem se verdwyning probeer uitbuit het om geld te probeer kry.
Die Sondag voor Willem gevind is, het hy beweer dat hy vir Willem aanhou en het die inligting daarop gedui dat dit in die Motherwell uitbreiding, buite Gqeberha is.
Dit het gevolg kort nadat ’n man op Facebook gesê het hy het die bakkie in daardie omgewing gesien en dat ’n VW Polo die bakkie volg.
Die persoon het selfs dreigend geraak en gesê dat hulle Willem leed sal aandoen, sou die geld nie betaal word nie.
Selfs nog die oggend kort voor Willem gekry is, het hy die span gepla.
Die ondersoekers het egter dié dreigemente summier uitgeskakel toe kameras in al die rigtings nagegaan is en niks daarop gedui het dat die bakkie in die area was nie.
Buiten dié kansvatter, was daar egter “geen ander sinistêre oproepe” na die span, wat letterlik honderde oproepe, WhatsApps en selfs e-posse nie, soos die ander ondersoekers gekry het, nie.
Wat vir mnr. Bolhuis hartseer is, is dat “daar derduisende mense deur die jare vermis is en dan later dood of glad nie gevind word nie. Die een is net so tragies soos die ander. Elke vermiste persoon wat weg is, is ’n tragiese saak en net die mense wat dit beleef of ervaar het, sal weet waardeur die families gaan.”
Hy is van mening dat elke persoon wat in Suid-Afrika vermis raak, dieselfde aandag moet kry en ondersoek moet word.