Hartroerende boodskap van Willem se pa aan sy “Ysterperd”
Die trane vloei vryelik op die plaas waar Willem Kruger se begrafnisdiens gehou word.
In die begrafnisbrief is daar ’n spesiale boodskap van Willem se pa, Tian, wat ’n mens aan die hart gryp.
“My Ysterperd.
My Bul, ek kan nie beskryf hoe ongelooflik trots ek op jou is nie.
Jou opregtheid, inbors, eerlikheid en dan ook as dit nodig was, jou hardegatgeit.
Ek en jy het so baie dinge beplan en doelwitte gehad wat ons wou bereik.
Ek voel regtig of ek wil opgee, maar ek weet ek het jou ook so geleer dat ons nooit oorgee nie.
Al is jy nie meer op die aarde nie, weet ek jy sal in jou gees elke dag langs my wees en my moed inpraat soos wat ons altyd vir mekaar gedoen het.
Jy los ’n ongelooflike leemte in my lewe en ek gaan jou so onsettend, verskriklik baie mis.
Maar ek weet jy is rustig en veilig in ons Hemelse Vader se arms.
Tot ons mekaar weer sien, van jou sielsgenoot/vennoot, Jou Pa.
Ek is oneindig baie lief vir jou.”
• Die begrafnisdiens word gehou op Doornpan, die TKB beesplaas op die Modimolle pad, buite Marble Hall.
Die diens word gelei deur ds. Christo Jooste, wat vir die begrafnisgangers voorgelees het uit Psalm 121, soos dit op die begrafnisbrief aangedui is.
“My hulp kom van die Here…”
• Volgens die Daller joernalis, Janine Saayman, wat tans die diens bywoon, is die saal só volgepak, dat van die begrafnisgangers van buite deur die vensters en onder die bome die diens moet volg.