News

Monster goudvis ‘Carrot’ se kleinboet, ‘Worteltjie’ uit Loskop getrek

’n Helder oranje koivis is in Loskopdam gevang!

Dit kom dae na ’n monster goudvis met die naam ‘Carrot’ in Frankryk uitgetrek is.

Die reuse goudvis van 30kg wat in die Bluewatermeer van die Champagne provinsie in Frankryk gevang is, het die wêreld aan die praat gehad.

In berigte word gesê dat Andy Hackett sowat 25 minute gespook het om die goudvis, wat ’n kruising is tussen ’n koivis en ’n leerkarp, uit die water te kry. Die vis moes sowat 20 jaar gelede deur iemand in die meer losgelaat gewees het.

Net ’n dag of wat nadat ‘Carrot’ uitgehaal is, het Hannes Joubert, ons eie ‘Worteltjie’ uit Loskopdam se waters gehaal.
Hy en hengelmaat, Johan Dumas, het Donderdag vanaf Marulani Kloof se wal gaan lyne natmaak.

Nadat hulle ’n paar kleiner karps aan die lyn gehad het, het ’n groot verrassing vir Hannes gewag toe hy sien die ‘karp’ wat hy besig is om uit te haal, is helder van kleur.

“Ek het hom op ’n floatie gevang en dadelik besef dit is ’n koivis.”

Die monster goudvis van 30kg wat Andy Hacket verlede week in ’n meer in Frankryk gevang het. FOTO: Facebook/Bluewater Lakes.

‘Worteltjie’ het sowat 1.5kg geweeg en nadat daar foto’s geneem is, het hy hom weer laat gaan.

“Daar is later vir my gevra of ek hom nie vir my visdam by die huis wou hê nie, maar ek het gesê Loskopdam is my visdam!” het Hannes laggend gesê.

Hy noem dat ’n koi eintlik maar ’n tipe karpspesie is, net soos die groot goudvis van Frankryk.

Hy hengel gereeld by Krugerdam vir swartbaars en dan sien hy in die helder water koivisse van verskillende kleure.

•Hengelaar Braam Lee, wat elke week vir die Middelburg Observer die hengelvooruitsigte gee, sê die koi wat in Loskop gevang is, moes deur iemand losgelaat gewees het.

“Hulle kom nie natuurlik daar voor nie.”

Hy noem dat die goudvis wat in Frankryk gekry is, ook jare vantevore deur iemand losgelaat moes gewees het.

“Ek sê nie dit is onmoontlik dat hulle natuurlik daar voorkom nie, maar dis baie onwaarskynlik. Goudvisse word geteel en geneties gemanipuleer om mooi te lyk. Hy sou waarskynlik soveel jare oorleef het as dit ’n meer was waarin hy gevang is,” (hy het nie geweet dat die goudvis wel in ’n meer gevang is nie).

•Dit is die tweede koivis wat in Loskopdam gevang word.

Back to top button