’n Ma se boodskap: “As ek dan my seun moet opoffer…”
In ’n huldeblyk oor Willem Kruger se lewe is daar gesê “dat die respek wat Willem vir vroue gehad het, is omdat hy so baie respek vir sy ma, Stephanie, gehad het.
”Willem se oom, Eben Kruger, het namens die Krugerfamilie ’n huldeblyk oor Willem gedoen.
“Willem jy is te vroeg van ons weggeneem, maar ons weet jy is nou in die hemel. Jy is nou in die hemel. Jy het ewige lewe. Jy het ’n hemelse lewe. Ons hier mis jou en ons harte is stukkend. Ons sal jou nooit kan vergeet nie,” het hy hartseer gesê.

Eben het ook genoem dat “Willem sy manierisme by sy ma gekry het.”
Hy het sy huldeblyk afgesluit met: “Willem Kruger, we salute you!”
•Ds. Christo Jooste het in sy boodskap gesê dat “wat ons van Willem sal onthou, is dat hy ’n gemeenskap, ’n dorp, ’n provinsie, ’n land en die wêreld op hul knieë gebring het voor God.”

•Willem se vriend, Stanley van der Burgh, het hom beskryf as “’n kranige gholfspeler.”
•Sy begrafnisbrief het aan elke persoon se hart geraak met besondere briewe van sy pa, susters en sy ma.
•Sy pa, Tian, noem hom sy ‘Ysterperd…ek kan nie beskryf hoe ongelooflik trots ek op jou is nie.”
•Willem se ma, Stephanie, het hom haar ‘wonderwerkseun’ genoem.
In haar spesiale boodskap sê sy dat hy “daarna gestreef het om soos Jesus te leef en op jou stil, sterk manier het jy dit reggekry.
“God het Sy enigste gebore Seun opgeoffer om die wêreld te red, as ek dan my seun moet opoffer om net ’n paar mense na God te lei en te red, berus ek daarby.”

•Sy suster, Melissa, het in haar briefie gesê dat sy altyd op hom kon staatmaak en dat die leemte nooit gevul sal kan word nie.
“Wie sal nou vir Daniël leer gholf speel? Wie sal nou my honde kom red as ons weg is? Wie sal ek nou bel as ek bekommerd is oor onbenullighede en dinge wat ek nie verstaan oor die plaas nie?”
•Danelle het geskryf dat Willem hul “wonderwerk, kroonprins” was en “dat alles nog onwerklik voel.
“Ek wens ek kon nog een drukkie kry, nog een keer jou lag hoor, nog een keer jou gesigsuitdrukkings waarneem, nog een sarkastiese opmerking kry, nog een keer net saam met jou grappe maak en lag.”





