News

Almal se erwe nou leeg gedra

Die groep is gister weer opgemerk, maar het die jong man en vrou te kenne gegee dat hulle die stoele in 'n leë erf gekry het.

Dwelmverslaafdes en haweloses steel nou alles waarop hulle hul hande kan lê uit ons gemeenskap se tuine uit.

Mnr. Hans du Preez (Titon Sekuriteit en Alarms) sê die afgelope sowat drie maande het die diewe veral ligte op mure en in erwe afgebreek.

Nou vat hulle net mooi alles wat in jou erf is, soos tuinstoele, tafels, solarliggies, tuinslange, en enige ander gereedskap.

Hulle het die afgelope tyd ’n man drie keer in twee weke gevang met vermoedelik gesteelde artikels by hom, soos tuinstoele.

Hy was egter binne ’n dag weer op straat.

Mnr. Du Preez sê elke keer wat die man vasgetrek is, is daar inspuitings en naalde by hom gekry.

“Hy het onomwonde erken dat hy aan heroïne verslaaf is. Die artikels wat gesteel is, word net verkoop vir sy volgende fix.”

Mnr. Du Preez sê die man slaan veral in Groenkol toe.

• Verlede Donderdag het kringtelevisiemateriaal (CCTV) gewys hoe ’n booswig oor ’n muur in Luttigstraat (Groenkol) klouter om ’n tuinslang te steel. Na aanleiding van sy kleredrag en bou lyk dit soos die man wat Titon verlede week gevang met stoele in sy besit gevang is.

• Vrydag osmtreeks 13:00 het die Sektor vier radiogroeplede, dieselfde man in Seringstraat (Kanonkop) betrap met drie stoele en ’n tafeltjie.

Hulle het dadelik op verskeie groepe gevra of iemand stoele vermis, maar niemand het gereageer nie.

Die lede moes sy verskoning dat hy dit “by die asgate in Dennesig opgetel het” aanvaar en hom laat gaan.

Dieselfde nag is daar oor die palissadeheining by ’n huis in Hibiscusstraat (Kanonkop) oorgeklouter en vyf solarligte gesteel.

Saterdagnag het die booswigte teruggekom en ’n selfvoerder van die gesin se hond gevat.

In dieselfde tyd is ander inwoners in Hibiscusstraat se plante uit blompotte, wat op hul muur gestaan het, gegooi en die potte gesteel.

•Me. Helena Clayton het gisteraand laat weet dat jong mans sowat twee weke gelede ses allumniumstoele uit haar tuin in Viljoenstraat (Groenkol) gesteel het.

Hulle het later op hul kameras gesien dat die dief dit sommer op sy kop uit die erf gedra het.
Van die stoele het roesplekkies op die rugleunings.

“‘n Ruk terug het diewe terwyl my man-hulle die kamerastelsel opgesit het, ons lang aluminium leer van R5 000 gesteel.”

Me. Clayton sê daar moes iemand met ‘n bakkie die diewe gehelp het om die leer op te laai, want haar man en seun het gaan rondry om hulle te probeer vastrek, maar hulle het soos mis voor die son verdwyn.

•Die Middelburg Dagpatrollie het eergister twee mans, onderskeidelik 41 en 22 jaar oud, en ‘n jong meisie van 20, met netjiese kantoorstoel wat hulle in die straat af gedra het, betrap.

Die driestuks het weg gehol en het die Dagpatrollie die stoele aan die eienaars terugbesorg.

Die groep is gister weer opgemerk, maar het die jong man en vrou te kenne gegee dat hulle die stoele in ‘n leë erf gekry het.

Die ouer man het gesê hy het net die stoele help dra.

Die drie is op waarskuwing laat gaan.

Alhoewel die joernalis foto’s het van aldrie, kan ons dit nie gebruik nie, omdat hulle nie in die hof verskyn het nie.

•Titon Sekuriteit, asook al die ander sekuriteitsfirmas en noodgroepe waarsku inwoners om snags tydens beurtkrag en selfs bedags hul oë en ore oop te hou.

Veral by huise waar die huismense almal werk, moet bure ‘n ogie hou.

Back to top button