Boeredokters se verhale en staaltjies oor 100 jaar
In hierdie bylaag word daar hulde gebring aan al die dokters wat deur die afgelope eeu betrokke was by die destydse Boeredokters, waaruit die praktyk, Dr. JA Du Plessis en Vennote Familiedokters, gebore is.
Dokter Eksteen begin die geskiedenis….
Hy was nie net ‘n gebore Middelburger nie, maar het ook sy praktyk hier kom vestig.
Dr. Eksteen was buiten ‘n spoorweg mediese beampte en algemene praktisyn, ook distriksgeneesheer en later volksraadslid.
Hy word die superintendent van die Middelburg Hospitaal en help die hospitaal uitbou tot ‘n moderne provinsiale hospitaal met meer as 180 beddens.
Dr. Eksteen was verder een van die stigterslede van die destydse Oostelike Transvaalse Afdeling van die Mediese Vereniging van Suid-Afrika, waar hy verskeie kere voorsitter en bestuurslid was.
Hy en sy vrou, Jess, het op 19 Januarie 1963 in ‘n motorongeluk op die Middelburg/Belfastpad gesterf.

Dr. Joe Alberts vertel van sy 38 jaar in hul ‘safaripakkies’ by die Boeredokters:
Met die omdraai sien ek dr. Deon du Plessis, latere dekaan van die Mediese Fakulteit van UP, na my toe aankom.
“Joe, ek het net die praktyk vir jou!” sê hy met ‘n breë glimlag, want hy het geweet ek soek na ’n plattelandse praktyk waar ek goeie medisyne in die regte atmosfeer kon beoefen vir die res van my beroepslewe.
Na ’n kort verduideliking van die praktyk en met die kontaknommer van dr. Kobus Terblanché in my hand, is ek daar weg met ’n positiewe gevoel van opgewondenheid…die res is geskiedenis!
Op 1 Maart 1975 begin my pad van 38 jaar met die destyds bekende, beroemde Boerepraktyk.
Middelburg was destyds ’n mooi, skoon, groot plattelandse dorp wat bekend was vir sy sterk boergemeenskap en, natuurlik ook, die vlekvrye staalfabriek.
Die dorp het ook twee baie bekende mediese praktyke gehuisves, naamlik die Boere en die Jode, wat landwyd bekend was, asook ’n uitstekende Provinsiale Hospitaal wat deur die dokters van dïe twee praktyke bedien is.
Dr. CP Lourens was aan die hoof van die Boerepraktyk en dr. Max Patz was die hoof van die Jode.
Wat ‘n voorreg was dit nie vir ons jong dokters om hierdie twee senior manne as mentors te gehad het nie. Nie net het hulle ons van raad bedien nie, maar ook ’n wakende oog oor ons diagnosis en teateropleiding gehou, altyd in ’n postiewe gees.

Vroegoggende het ons, ons wit safaripakkies aangetrek, ons wit langkouse en GrassHoppers en ons dagtaak begin met saalrondte en daarna spreekure.
Sodra dit verby was, soms na ses in die aand, is nog moontlike huisroepe gedoen, voordat ons weer hospitaal toe is vir teatergevalle, buitepasiënte en saalrondtes.
Die Boere, wat sewe vennote was, het vyf dae diens gedoen by die hospitaal en die vyf Jode-vennote was vir die oorblywende twee dae van die week aan diens.
Praktykvoering in daardie jare het wesenlik verskil van die huidige sisteem. Omdat daar net ’n paar besoekende spesialiste sommige dae in die dorp beskikbaar was, was die algemene praktisyns hoofsaaklik verantwoordelik vir die diagnoses en behandeling van hul pasiënte se siektetoestande.
Sjirurgie soos blindederms, mangels, keisersnitte en soms selfs histerektomies is met vaardigheid uitgevoer, terwyl die narkose en assistensies deur die ander vennote behartig is.
Bevallings was dikwels die hoogtepunt van die dokters se werksaamhede en loop daar gevolglik vandag nog vele Boerepraktykbabas in die wêreld rond.
Die Provinsiale Hospitaal was beskou as een van die bestes in die ou Transvaal met puik verpleegpersoneel wat die sale, asook die teaters bedien het.
Met die bou van die Life Midmed Hospitaal het meer inwonende spesialiste na Middelburg verhuis en dit het praktykvoering drasties verander.

Die grondslag van ons praktyk was die uiters goeie vertrouensverhouding wat daar tussen geneesheer en pasiënt bestaan het.
Wedersydse respek en dankbaarheid was altyd teenwoordig.
Ons het hárd gewerk, maar ook baie goeie tye gehad, want humor en interessante stories was daar baie, veral as Gert Bodemer, geliefde dokter van vele, in die nabyheid was.
Soos die keer toe hy die gereserveerde dr. John Hofmeyr met die stetoskoop teen ’n klein pasiëntjie se oor betrap het. Verseker het hy nooit die einde daarvan gehoor nie.
Dr. Hofmeyr se verklaring was eenvoudig dat die bekommerde ma nie wou gaan voordat die arme dokter nie sy stetoskoop teen die kind se oor gedruk het nie.
Woensdae was gholfdae. Met dr. Leon Joubert, seun van stigtersdokter Pierre Joubert, in beheer van die diensrooster, het sake vlot verloop en het hy gesorg vir genoeg gholftyd, gesinstyd en goeie vakansies.
Die indiensopleiding van die dokters is deur besoekende professore en spesialiste waargeneem en geborg deur vele farmaseutiese firmas. Dit het gewoonlik op heerlike sosiale kuiers uitgeloop.
Soos die tyd aangestap het, het verskeie vennote by ons aangesluit waarvan meeste lang diensjare in die praktyk verrig het.
Mettertyd het die praktyk ’n vyfmanspraktyk geword na die aftrede van die ouerwordende vennote.
Deur die jare is daar ook ’n paar ander mediese praktyke in Middelburg gevestig en steeds is die gesindheiid van respoek en positiewe samewerking tussen die onderskeie praktyke gehandhaaf.

Hierby het Middelburg as dorp net gebaat.
In die spreekkamer was daar ’n pragtige houtpaneel waarop die name van al die praktiserende vennote deur al die jare, met die betrokke jaartalle wat hulle daar gewerk het, verskyn.
Met die lees van hierdie name kom mens tot die besef dat vele van hierdie dokters die volle duur van hulle arbeidsjare by die praktyk deurgebring het.
Dit is ’n stille getuigskrif van die toegewydheid en diensbaarheid en omgee waarmee die pasiënte van hierdie praktyk bedien is deur almal wat daar werksaam was.
Ons as ou dokters van die Boerepraktyk is opreg dankbaar teenoor die nuwe eienaars van die nou Familiedokters vir die oorneem en vertoon van die naambord in hulle mooi nuwe spreekkamers.
Die praktyk is gerugsteun deur ‘n ongelooflike groep dames wat eweneens jare daar diens gedoen het en ook hulle het net hul beste vir die praktyk en sy pasiënte gegee… Dit was ware toewyding!
Tyd bring verandering en so eindig die naam Boeredokters en word die praktyk voortgesit onder die nuwe naam Familiedokters en wens ons die huidige dokters die beste toe vir vele jare wat voorlê.
Anet van den Bergh sê daar was harmonie tussen almal:
‘n Professionele span dames was vroeg dag al aan die werk.
Die atmosfeer in ontvangs was ontspanne en rustig.
Pasiente daag betyds op vir hul afspraak met hul geliefde huisdokter om hul probleme te bespreek en hul siektes, beserings, vreugde en smart te deel. Só was na hul kwale en wonde omgesien en genees.
Die hoogsintelligente dokters was uitstekende luisteraars en het met erns, deernis en meegevoel na hul pasiente geluister en aan hulle was bemoediging en gemoedsrus gegee. Só was na hul siektes en wonde omgesien en genees.
Daar was wonderlike harmonie en respek tussen dokters, dames en pasiënte. Elkeen met sy eie karakter en temperament. Almal het kennis gedra van mekaar se sterk eienskappe en almal het begrip gehad vir mekaar se swakhede.

Die gang van sake in die spreekkamer was gewoonlik rustig en doelgerig.
Ons kon lekker eet en fees hou as daar kos gemaak was of as iemand verjaar het of as die “reps” iets saamgebring het.
Humor het ook sy plek gehad.
Om te Lag (met ‘n traan) is die beste medisyne!
Dit was alles genade van Bo.
‘God is Good”
•Anet is dr. Jaco van den Bergh se vrou. Hy is verlede jaar oorlede.


Dr. Leonard Joubert moes kollega help met steke:
Ek het ’n oproep gekry van een van my mede-vennote, dat ek hom moet kry by die praktyk.
Daar aangekom vind ek my kollega met bloed wat loop vanaf sy regter wenkbrou bo sy oog.
Ek vra toe vir hom hoe het die ongeluk gebeur?
Hy het te vertelle gehad dat hulle gaan jag het op ’n nabye plaas. Hy het aangelê en gemik deur die teleskoop van sy jaggeweer.
Die skoot het af gegaan, en met die terugskop van die kolf, het die teleskoop hom op sy oogbank getref, en ’n halfmaan oopgekloof deur sy vel.
So nou was my kollega my pasiënt!
Ek het ’n stekepak gereed gekry, lokale verdowing gespuit en baie bewerig my kollega se wond geheg.
Als het darem goed verloop, sonder komplikasies!
Grieta van Wyk (verpleegkundige, 2008-2011) onthou dat dokters werklik omgegee het:
Ek was verbaas om só goed ontvang te word deur die dames en die dokters. Ek het al by baie praktyke in die verlede gewerk, maar dié een was anders.
Ek het dit nog nooit by vorige praktyke beleef nie.
Dit was lekker om daagliks daar te gaan werk.
Daar is nooit pasiënte weg gewys nie.
Dokters Francois Raath, Joe Alberts, Jaco van den Bergh, Berlize Curlewis en Fred Petrick was amazing.
Niks was vir hulle méér belangrik as hul pasiënte nie.
Hulle het die personeel met respek behandel.
Die praktyk was ook goed bestuur.
Sr. Marié het net liefde gehad vir haar pasiënte.
Geen pasient was met ongerief huistoe gestuur nie.
Daar het ek besef wat liefde en omgee was vir jou medemens!
Ek wil ‘n dokter uitsonder: dr Jaco van den Bergh was ‘n awesome dokter en baas.
Die Boeredokters was die beste praktyk om by te werk!
Dankie aan almal vir ‘n wonderlike drie jaar van omgee.
Emily Venter se herinneringe aan dokter Jaco:
Die hoogtepunt wat altyd vir my sal uitstaan is dokter Jaco se gunsteling sitplek op die klein stoeltjie buite die kombuisdeur waar hy gerook het. Daar het hy voorskrifte uitgeskryf en saam lekker gelag.
Dr. Jaco was ’n goeie leermeester, altyd geduldig om ons as susters nóg iets te leer.
Sy leë stoel laat beslis ‘n groot leemte.

100 jaar is ’n lééftyd wat die Boeredokters/Familiedokters dié gemeenskap gedien het!
Julle sal altyd n plekkie in Middelburg se gemeenskap hê.
• Emily was vanaf 2013 tot 2018 by die boeredokters.
Dr. Servaas Terblanché koester al die oomblikke saam vir altyd:
Op daardie stadium was my broer, Kobus, saam met vyf ander dokters in die Boereparktyk.
Ons ma, Babs, sluit aan as boekhoudster by die praktyk en het daar gewerk tot met haar aftrede op 85.
Ek begin ’n praktyk saam met my ou boesemvriend en kollega, Jaco van den Bergh, en ons sluit aan by die Boeredokters in 2001.
Dr. Van den Bergh was daar tot met sy dood op 28 Julie 2021.
My herinneringe: ‘n Wonderlike praktyk, dierbare vriende en herinneringe vir altyd. Die Terblanche’s was ’n integrale deel van die Boerepraktyk.
Ek mis jou Jaco en ek mis al die lekker kuiers.
Dr. Johan Scheepers se lewe is verryk by Boerepraktyk
Middel 1997 tot einde Maart 2004 verteenwoordig my vormingsjare as ‘n jong ongetroude 25 jarige dokter, beginnend in ‘n groot privaat praktyk.
My jongste van vier vennote was dr. Francois Raath op 50 jaar en dan dr. Joe Alberts, dr. Kobus Terblanche en dr. John Hofmeyr, op 60 jaar die oudste. Met die uitsondering van Francois, was almal se kinders reeds volwassenes en meestal ouer as ekself.
Na ongeveer vier jaar, het dokters Jaco van den Bergh en Servaas Terblanché aangesluit en was ons sewe in totaal.
Ek het dikwels aan pasiënte die storie vertel van die Boere vs Jodedokters en dat dokter HO Eksteen die praktyk in 1922 begin het en dat die geskiedenis op die kiaatbord vertoon word wat prominent in die wagkamer is.
Daar was baie staaltjies van die ou dae met plaasbesoeke, bevallings op kombuistafels en misvloere, asook rivierkruisings te perd.
Ek het gehoor dokter Joe het met sy Volla tot by rivier gery, waar die boer hom ingewag het met ‘n perd. Ek is steeds nie seker hoe waar dit is nie.
Met verloop van tyd het ek tot die insig gekom dat daar tot en met vyf geslagte van families by die praktyk gelyktydig is, waarvan geslagte in die lewe gebring is deur dokter John.
Elkeen van hierdie dokters het ‘n eie en baie unieke persoonlikheid en uitkyk op die lewe gehad en het dit so oorgedra aan elkeen wie se lewens hulle aangeraak het.
Die kennis, lewenservaring, ondersteuning, leiding en vriendskap het my persoonlike lewe verryk en van my ‘n beter mens en dokter gemaak wat my goed gedoen het op my lewenspad voorentoe.
Ek wens die Boeredokters, nou Familiedokters, hartlik geluk met die grootse mypaal van ‘n 100 jaar aaneenlopende bestaan.
Daar is voorwaar min, indien enige, ander mediese praktykte met hierdie onderskeiding.
Ek dank al die dokters wat voor my daar was, die wat saam met my daar was en die wat na my gekom het en nog moet kom, asook al die personeel. Sommiges was werksaam vir dekades en kon alle familieverbintenisse in detail uitlê
Die derduisende families wat ons deur die eeu ondersteun het, julle was ons bestaansreg en die rede vir die langslewendheid en staan as die kern vir die huldeblyk.
Dit is en bly n voorreg on deel te kon wees van die Boeredokters.
Dr. Fred Petrick bring ‘n ode aan die Boeredokters
Baie geluk met die Honderd-jarige bestaansherdenking van ons “Boeredokters” praktyk.
Net ‘n paar interessante puntjies van belang vir ons lesers:
Honderd jaar gelede was daar die Afrikaans sprekende “Boere” dokters en die Engels sprekende “Jode” dokters praktyke in Middelburg – vandaar die liefdevolle verwysing na die “Boere”dokters.

Voor: Praktykbestuurder Laetitia Bothma. Agter: Dokters Abrie du Plessis, Adele Senekal, Jaco van den Bergh en Fred PetrickWat ‘n belewenis moes die afgelope 100 jaar nie vir die inwoners van Middelburg en omgewing gewees het nie!
Pasiënte het van heinde en verre gestroom na die uiters vaardige en lojale huisdokters van die Boeredokters praktyk.
Per definisie het ‘n huisdokter die volgende verantwoordlikhede: Hulle sien om na die gesondheid van mense in hulle gemeenskap en hanteer pasiënte se wyd uiteenlopende gesondheids kwessies.
Tipiese verantwoordelikhede behels:
• Pasiënt konsultasies, tuis in hulle huise en in die spreekkamer.
• Monitering van pasiëntkondisies en algemene welstand.
• Kliniese ondersoeke.
• Diagnose en behandeling van siektes en kwale.
• Klein prosedures.
• Uitvoer van toetse om te diagnoseer.
• Gesondheids opvoeding.
Per definisie maak die volgende kenmerke en eienskappe ‘n goeie huisdokter: • Goeie kommunikasi vaardighede. Meeste van jou tyd word spandeer deur te praat en te luister na jou pasiënt.
• Oop-kop en nie-veroordelend wees.
• Vermoë om onsekerheid te hanteer.
• Vermoë om onafhanklik te werk.
• Voortgesette belangstelling in volgehoue studie. Die Boeredokters het dit.
Wat behels dit om ‘n goeie huisdokter te wees?
• Kennis van medisyne.
• Wetenskaplike vaardighede.
• Kennis van die psige.
• Beradings vaardighede soos om aktief te luister sonder om veroordelend te wees.
• Om deeglik te wees en aandag aan die fynste detail te gee.
• Puik kommunikasievaardighede hê.
• Die vermoë te hê om kritiek te hanteer, en onder erge druk te funksioneer. Watter vaardighede moet ‘n goeie huisdokter besit?
• Praktyk medisyne is algemene, pasiënt-georienteerde, volgehoue versorging. Die Boeredokters het dit.
Wat gebeur in ‘n algemene huisarts praktyk?
Algemene praktyke hanteer ‘n wye spektrum van dienste soos onder andere: immunisasies, diagnosering en behandeling van algemene siektes en beserings, ondersteuning van psigiese gesondheids toestande, help pasiënte om chroniese toestande te hanteer, verwysing na spesialiste vir verdere gespesialiseerde behandeling en verwysing na ander dienste wat alternatiewe hulp kan verskaf.
Huisartse gee die volgende dienste aan die inwoners van ons dorp en omgewing:
• Mediese advies.
• Fisiese ondersoeke.
• Diagnosering van simptome.
• Voorskryf van medisyne.
• Gesondheidsopvoeding.
• Vaksinerings.
• Klein eenvoudige chirurgiese prosedures.
• Versorging/hantering van chroniese mediese toestande.
Om saam te vat: Die Boere dokters het aan al bogenoemde kenmerke voldoen.
Ek het die voorreg gehad om met die ou garde, dokters John Hofmeyr, Francois Raath, Leon Joubert, Wynand Bezuidenhout, Willem Piek, Joe Alberts, Kobus Terblanche en Gert Bodemer, as locum te werk.
Ook met die jonger garde, dokters Jaco van den Bergh, Berlize Curlewis, Adele Senekal, Abrie du Plessis, Maxine Sampson en Alda Nienaber as kollegas te werk.
Mag die volgende 100 jaar net so voorspoedig en geseënd wees.
Ons is nou nie meer “Boere” dokters nie, maar wel “Family” Doctors…. Net so goed en vaardig!
*Dr. Petrick was by die Boeredokters vanaf 2008 tot 2018.
Dr. Marina Naude koester elkeen se lojaliteit in haar hart
Ek het net goeie herinneringe van die tyd wat ek by die Boeredokters gewerk het.
Integriteit, kameraadskap en omgee vir pasiente is kenmerke wat uitgestaan het.
Ek onthou dat die spoedlys per geleentheid so uitgewerk het dat iemand moes spoed op die naweek wat sy kind getrou het.
Dadelik was daar twee mense wat bereid was om in te staan sonder dat daar gevra is. Dit was die tipe lojaliteit wat daar geheers het.
Ek het ‘n naaldprik-insident in teater met ‘n HIV positiewe pasiënt gehad.
‘n Paar maande later het ek uitgevind ek was swanger. Ek was dadelik bekommerd en moes my HIV status weer laat toets.
Ek was in trane toe my bloed getrek moes word.
Jaco van den Bergh en Servaas Terblanché het met soveel liefde en omgee vir my getroos en my versekering gegee dat alles sal uitwerk en my toets negatief sou wees.
My jongste is al 20 en ek onthou dit steeds.
Woensdae was gholfdag en dan het die ernstige gholfers die middag gespeel. Die praktyk is dan meesal deur myself en Kobus Terblanché beman.
Toe ek Middelburg verlaat, het ek van die praktyk ‘n trofee ontvang vir die beste gholflocum ooit. Ek koester dit steeds.
Ek wens vir elke jong dokter vandag om te kan groei in ‘n praktyk waar daar soveel lojaliteit en integriteit is.
Hiermee wil ek baie geluk sê vir die 100 jaar viering van die praktyk en baie dankie aan elke dokter en ontvangsdame saam met wie ek gewerk het in my jare daar. Dit was vir my ‘n voorreg.
Uit dotker Kobus Terblanché se pen:
Ek land in 1968 by die Boeredokters.
Daar is net twee praktyke in Middelburg. Ons en die Jode.
Destyds was daar baie Jode in ons dorp. Die ou Sinagoge, in die nou John Maggkulastraat getuig daarvan.
Dis Drs Joachim Prinsloo, CP Louwrens, John Hofmeyr, Eugene du Plessis, Leon Joubert, hy het pas by sy pa dr. Pierre Joubert oorgeneem, en nou ek.
Ons werk hard. Hier is geen spesialiste in die dorp nie, die en geen hospitaaldokters nie. Ons moet alles doen.
Van mangels uithaal, derm-obstruksies, gebarste maagsere, tot buiksteekwonde, opereer.
Gevalle waarvoor ons regtig nie kans sien nie kan ons darem Pretoria toe pos. Vele nagte, word word daar min, of gladnie geslaap nie.
Vir die Hospitaalwerk verdien ons omtrent niks nie. Ons mag darem ons privaatpasiënte daar behandel.
Bevallings was nie maklik nie. Party babas kon jou grys hare besorg.
‘n Keisersnit was die laaste uitweg. As jy vashaak, kon jy darem vir dr. Zinn op Witbank (nou eMalahleni) bel om te kom help.

Binne 20 minute hou hy voor die kraamsaal stil. Hy was ‘n towenaar met verlossingstange.
Dr. Leon Joubert doen ‘n moeilike bevalling. Die baba begin swaarkry en moet uit.
“Kom nou mevrou, jy moet ons help, kom nou, met jou volgende pyn moet jou baba uit!” por hy haar aan.
Sê sy: “Wie de hel is jy om so met my te praat, het jy al ooit n baby gehad. Weet jy hoe bleddie seer is dit!”
Om nog ‘n skrobbering vry te spring, fluister hy toe maar met die volgende kontraksie in die suster se oor: “Asseblief suster praat jy tog met die vrou, hierdie baba kry swaar.”
Na jou werk by die spreekkamer, is dit hospitaal toe, om die dag se opnames te gaan versorg.
Pasiënte in die hospitaal word twee maal per dag gesien. Dr. Max Patz, die legendariese Jodedokter, sien hulle tot drie maal per dag!
‘n Intensiewe eenheid bestaan nie. Menige akuut siek pasient oorleef danksy puik verpleging deur passievolle, ten volle toegewyde verpleegsters. Goeie ou dae!
Dan is ons ook nog distriksgeneeshere!
Omtrent elke oggend lykskouings. Meestal motorongelukke en moord.
Saans dronkbesture. Daarvoor moet jy hoftoe om te gaan getuig. Ons mag darem in werksklere in die hof verskyn, das en baadjie soos vir ander getuies is nie nodig nie.
Smiddae moet die jonges gaan plaasroepe doen.
Omdat ek die distrik nog nie goed ken nie, is verdwaal my voorland. Tot anderkant Kranspoort ry ons.
Die Boere bel net en sê daar is siekte op die plaas. Masels, gastro enteritis, longontsteking, bevallings. In die reistas tot ‘n stel tange om ‘n seer tand te trek!
Ons verdien R1.90 vir ‘n konsultasie. R4.40 vir n nagroep. Genoeg dat ek ‘n splinternuwe Volla by Autohaus vir R1 900 kan gaan uittrek!
My een vennoot wil ‘n Chev by oom De Ville de Kock koop. Oom De Ville doen navraag oor sy finansies. Besluit hy kan dit nie bekostig nie. Moes toe maar met ‘n Ford by oom De Ville se opposisie tevrede wees!
Hier is nie ‘n laboratorium nie. Allernoodsaaklike bloedtoetse moet Witbank toe.
Ek sny ‘n moesie uit. Twee weke later verneem ek per brief dit is ‘n kwaadaardige Melanoom!
So verloop jou dag: Die vreugde van ‘n nuwe baba in kraamsaal, en dan dood in ongevalle en komiese dinge.
Komiese stories soos:
• Die oom wat aandring dat ek nie moet vergeet om sy “geelrokkies, 5 kilogram” (5 milligram Valium van Roche) op te skryf nie.
• Die Indiër tannie wat my met vyf samoesas betaal.
• Die ou se klagte dat as hy sug, Hy nie beter voel nie (diagnose: depresse).
• Die tante wat ly aan “vlieënde jig”, en niks help nie. Jy beveel ‘n nuwe opspuit medisyne aan, ‘n anti inflamatoriese stof wat deur die vel geabsorbeer word. Haar antwoord “dit sal nie help nie ou Dok, die pyn spring te vinnig!”
• Die perfeksionis oom wat wat by dr. Prinsloo aandring om te opereer op sy skrotum wat eenkant laer hang as die anderkant!
Dr. Prinsloo verseker hom dis normaal, maar die pasiënt hou voet by stuk: “Nee Dok, jy moet dit regmaak. Dit lyk tog alte slordig!”
• Hierdie storie het nie komies begin nie, maar die uiteinde het ons almal later laat lag.
Dr. du Plessis spuit ‘n ou Penisilien. Hy is allergies. ‘n Paar van ons spook deur ons etensuur om hom deur te haal. Hy draai by die dood om.
Ses maande later is hy terug, wil dr. Du Plessis sien. Dring aan op dieselfde jowa (inspuiting ) as sy laaste, want hy het “jare laas so goed gevoel!”
• Dr Louwrens verlos ‘n drieling. Toe het die egpaar al twee of drie kinders. Ek doen ‘n roep daar.
Al drie kleintjies het gastro. Die opgeskotes trap verbete doeke in die bad skoon. Dis was die dae voor Pampers!
• In die sestigs het ons nog ‘n telefoonhandsentrale gehad.
Een aand kom ek laat in die kooi van die hospitaal af.
Iemand bel een uur die nag, haar man is siek, ek moet kom kyk.
Ek raak egter aan die slaap en skrik letterlik 10 minute later wakker. Nie ‘n idee wie my gebel het nie.
Maklik! Ek bel die sentrale en die meisie op die sentrale weet wie dit dit was, en waar hulle bly.
Ek jaag soontoe. Genadiglik is die ou darem oorlede nie!
Ons dokters het sekere kenmerkende eienskappe gehad.
Ons latere vennoot, Gert Bodemer had ‘n slag met kinders. (CP Louwrens weer met vroumense! Het my tweeling onder andere die wêreld help inbring).
Na Gert se vroeë afsterwe kom ‘n ma my sien, met haar tweevlegsel ou klein dogtertjie.
Ons praat oor Gert en sy wys na die kind. “Sien jy daai kind dokter, sy was dr. Bodemer se oogappel.” Dié storie gaan saam met trane vir my.
Distriksgeneesheer uitstappies wat ek geniet het, was om kinders in die distrik te gaan ent teen polio in pokke. Die kleintjies staan in toue, en jy ent hulle. En jy weet jy doen iets van waarde.

Op die manier het ons die twee gevreesde siektes uitgeroei! En as jy gelukkig is, gaan ‘n mooi nursie saam om jou te help.
Die voordeel van ons lewe is dat jou aftye kosbaar is.
Daai een middag ‘n week, en elke tweede naweek af en jou vakansies is tyd vir jou gesin. Om jou vrou te bederf en jou kinders te leer ken.
Daar kom ook ‘n dag dat jy moeg en moedeloos voel. Dat jy wonder of alles sin maak. Wonder of jy goed genoeg is vir jou werk.
En dan sê Felici, ons ontvangsdame dat daar vir jou ‘n pakkie is. ‘n Trui, self gebrei, en ‘n briefie van iemand wat jy dalk nie eers so watwonders behandel het nie , om dankie te sê.
Of n stuk geelvetbiltong van n boer wie se werkers jy gaan besoek het.
Dan skep jy weer moed. Weet jy dat alles nie tevergeefs was nie. En besef jy, soos dr Leon Joubert altyd gesê het, “mens moet maar net jou bes probeer doen.”