Aggressiewe aardwolwe dalk hondsdol
Dokters en boere van regoor die land af wonder of die aardwolwe wat 'n Middelburger se bakkie aangeval het, nie moontlik hondsdol was nie.
‘n Boer uit die Noordkaap het selfs gesê dat hulle van hul vee verloor het weens hondsdolheid.
Mnr. Jean Pierre du Toit het Maandag in skemerdonkerte agter Dennesig op ‘n wegsteek grondpad gery en vier diere in die pad sien staan.
Hy het aanvanklik gedink dit is jakkalse, maar toe hy nader kom, het hy dadelik opgemerk dat dit nie jakkalse is nie.
Die oomblik toe hy stadiger ry om hulle nie raak te ry nie, het die diere sy bakkie se wiele aangeval en ook gegrom.
Van die diere wou hom ook deur die venster van sy Bantambakkie aanval.
Hy het sy selfoon uitgepluk om hulle af te neem, maar kon net een vinnig afgeneem kry voor dit die lang gras in verdwyn het.
Hulle het aanvanklik nie geweet watse diere dit is nie, maar dit is later deur talle veaartse en ‘n ekoloog geïdentifiseer as ‘n aardwolf.
Aardwolwe is glad nie aggressief nie, val nie ander diere aan nie en vreet slegs insekte.
Mnr. Johan Rootman, wat in die Keerom omgewing bly, sê hulle sien op ‘n gereelde basis aardwolwe en dat die diere nog nooit enige probleme op plase veroorsaak het nie.
“Die aardwolwe is al vir jare daar en hulle pla niemand nie!”

Die feit dat die aardwolwe die voertuig aangeval het, is egter kommerwekkend.
Mnr. Jan Louw, wat naby Kakamas in die Noordkaap boer, het in sy kommentaar op die artikels genoem “dat hondsdolheid ‘n geweldige probleem is by ons, Ons het ‘n bees en ‘n boerbokram verloor as gevolg van hondsdolheid. As wilde diere so vreemd optree, dan is die kanse goed dat die dier hondsdolheid onder lede het. Alle soogdiere kan hondsdolheid kry.”
Hy noem dat die dier nie sal skroom om te byt nie, veral as die besmette dier naby water is. “Dan is hulle baie aggressief, want hulle kan nie water drink nie. Dit is ‘n aangeleentheid vir die staat en moet die naaste staatsveearts verwittig word.”
Plaaslike ekoloog Jannie Coetzee en dr. Leon Connoway, wat jare staatsveearts en daarna tot met sy aftrede in privaatpraktyk was, vermoed beide dat die aardwolwe so kon opgetree het, omdat daar moontlik kleintjies in die omgewing is.
Dr. Connoway het egter ook genoem dat hondsdolheid nie uitgeskakel kan word nie.
Dr. Clarissa du Toit (Kanonkop Dierekliniek) noem dat hondsdolheid ‘n mootnlikheid is, maar dat dit vreemd is dat vier diere met hondsdolheid so sal saam beweeg.
Dr. Tharina van Noordwyk (veearts van Hartbeespoort) het in haar boodskap gesê dat sy bekommerd is oor die voorval.
“Dit is baie vreemde gedrag vir aardwolwe. Ons sê altyd met hondsdolheid raak wilde diere mak en mak diere wild.”
Sy het dit duidelik gestel dat daar “‘n hondsdolheid uitbraak in Suid-Afrika is.”
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het mense in die vakansietyd gemaan om versigtig te wees in gebiede wat as hoë risiko areas beskou word.
Mpumalanga is saam met die kusgebiede van KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Limpopo as hoë risko gebiede aangedui.
Die woordvoerder van die departement, Reggie Ngcobo, het gewaarsku dat mense nie aan rondloperkatte of -honde in hierdie gebiede moet raak nie, aangesien hulle met hondsdolheid besmet kan wees.
- Mnr. Deon Cornelius (van die uBhetyan Wildsplaas net buite Middelburg) het aangebied om die kwessie te monitor en te help indien nodig, sou daar weer ‘n soortgelyke voorval plaasvind.
Die artikel van die aardwolwe het ook ander interessante reaksie uitgelok en is die volgende boodskappe ontvang:
- Dalene Potgieter van Hartbeespoort is van mening dat die aardwolwe so vreemd en aggressief opgetree het oor die “5G frekwensies. Ek het al gesien dat voëls ‘n 5G toring aanval.”
- Nog ‘n inwoner uit die Noordkaap (sy het nie haar naam verskaf nie) is ook oortuig daarvan dat die aardwolwe dalk hondsdol kon gewees het. “My vriendin het ‘n bakoor jakkalsie (ook ‘n insekvreter} gehad, wat aggressief geraak en teen goed vasgehardloop het. Hulle het agtergekom dat hy hondsdolheid het.”
