Vrou met panga aangeval op plaas
'n Vrou is gewelddadig met 'n panga aangeval by hul huis op die plaas Elandsdoorn in die Groblersdal distrik.
Me. Lorraine Prinsloo (55) is vandag per ambulans na die Life Midmed Hospitaal geneem nadat sy erge kapwonde op haar kop en hande opgedoen het. Die kapwonde op haar hande het sy opgedoen terwyl sy vir die kaphoue probeer keer het.
Die aanval het vroeg vanoggend plaasgevind.
Me. Prinsloo se skoonsuter, Rika, sê sy het nog nie al die feite nie, maar kon hulle uit wat haar geskokte broer, Mike (Lorraine se man) vertel het, ‘n prentjie kry van die traumatiese gebeure.
Daar is twee huise op die plaas en het die ander huis se alarm afgegaan.
Mnr. Prinsloo het soontoe gery om te gaan kyk wat aangaan en het me. Prinsloo aangegaan met die oggend se take.
Terwyl hy weg is, het ‘n booswig met ‘n panga op me. Prinsloo toegesak.
“Ons vermoed daar was net een aanvaller en dat hy die alarm laat afgaan het by die ander huis, om by hulle huis in te gaan.”
Mnr. Prinsloo het met sy terugkeer sy vrou gevind en is alarm gemaak.
Sy het ‘n diep sny agter die oor en ook diep snymerke aan haar hande.
“Gelukkig is al die groot are in haar nek gemis.”
Nadat me. Prinsloo behandeling gekry het by die Groblersdal Hospitaal, is sy per ambulans oorgeplaas na Midmed, waar sy vir ten minste twee dae vir waarneming gehou sal word.
“Sy is ‘n diabeet en wil hulle net seker maak alles is reg,” sê Rika.
- Nadat mnr. Prinsloo alarm gemaak het, het die span van WIPS Sekuriteit (Wildlife Investigation & Protections Services) blitsig gereageer en is ‘n verdagte vasgetrek.
- Die aanvaller herinner sterk aan die gebeure van Oktober hierdie jaar waar me. Sannie Luus (oud-onderwyseres van Laerskool Uitkyk) en haar broer, Gert Joubert, op ‘n plaas in die Stoffberg-omgewing aangeval is. Mnr. Joubert is ook met ‘n panga aangeval en het etlike dae later aan sy beserings beswyk.
