Man wat met panga aangeval is, sterf in hospitaal
Mnr. Gert Joubert (66), wat op sy kop gekap is met ’n panga verlede Maandag tydens ’n plaasaanval in die Stoffberg omgewing, is gister oorlede.
Na die aanval het hy ’n noodoperasie in die Witbank Hospitaal ondergaan om bloeding op die brein te verlig. Hy is oorlede terwyl hulle hom uit sy geïnduseerde koma probeer wakker maak het.
Sy familie het by hom gewaak tot met sy afsterwe.
“Hulle het hom stadig uit die koma gehaal, maar sy liggaam het in skok gegaan. Oom Gert het baie seer gekry en die operasie was baie traumaties op sy liggaam,” het sy susterskind, Gerda Kyprou, vanoggend gesê.
Lees ook: Bejaardes met pangeas aangeval: ‘Dit was ’n boedbad!’
Mnr. Joubert en sy suster, Susan (Sannie) Luus, is verlede Maandagaand op ’n gedeelte van die plaas Grootrietvlei, deur mense wat die afgelope maand op die plaas gewerk het aangeval.
Hy het die deur vir hulle oopgemaak, want hulle het gesê hulle benodig brandstof vir die kettingsae.
Die oomblik toe hy buite kom, het een van die aanvallers sy kop oopgekloof met ’n panga en hom by die huis ingesleep.
Me. Luus, wat nog besig was om te eet, se bord is gegryp en op haar kop gebreek.
Daarna is sy met die platkant van die panga op haar lyf, arms en bene geslaan terwyl hulle geld geëis het.
Lees ook: Aanvallers ‘was vriendelike gesinnetjie met pasgebore baba’
Die aanvallers het weggekom met ’n paar rand, wat in me. Luus en mnr. Joubert se beursies was (sowat R1 000), ’n televisiestel, twee kettingsae en haar grys Opel Corsa bakkie.
Na die aanval is broer en suster in die Middelburg Hospitaal opgeneem, vanwaar mnr. Joubert oorgeplaas is na die Witbank Hospitaal waar skanderings gewys het hy het bloeding op die brein en skedelbreuk.
“Ons almal maak nog sin van alles,” sê me. Kyprou.
Lees ook: Noodoperasie vir bloeding op brein na panga-aanval
“Dit is so ’n groot skok vir my ma en die familie. Dit sou soveel beter gewees het as hy net oorleef het,” het sy hartseer gesê.
•Die familie sal vandag met begrafnisreëlings begin.
•Mnr. Joubert het tydens die aanval by sy suster gekuier. Hy is ’n inwoner van die Wapadskloof-omgewing waar hy voor sy aftrede eers geboer en die afgelope tyd in die omgewing in ’n aftree-gemeenskap ’n huis gehuur het.
•Die moordenaars is steeds op vrye voet. My Kyprou het genoem dat die polisie hulle steeds op hoogte hou van alle leidrade wat opgevolg word.
