Ontvoerders dreig om man op te kap en in dam te gooi
Die 34-jarige Glenten van den Heever wat vroegmore in Ben Fleur in eMalahleni deur drie mans ontvoer is, was besig om in ’n bejaarde se tuin te werk toe die ontvoerders toeslaan.
Mnr. Van den Heever was kort na 08:00 by die bejaarde vrou in Ben Fleur waar hy haar sou help met rose snoei.
Hy was buite die erf besig toe hy die silwer Avanza sien nader ry.
Die drie mans in die Avanza het eers ’n man in die straat met ’n winkeltrollie by hom geteister.
Hulle het die man hardhandig behandel en glo deur al die sakke in die trollie gegrawe.
Lees ook: Geboeide man by vulstasie in kar geboender
Daarna het hulle hul aandag op mnr. Van den Heever toegespits.
Hulle het hom beskuldig dat hy plante by een van die ontvoerders se huis gesteel het.
Hy het hom teegesit maar is gegryp en geboei en saam die tuingereedskap in die kar gedwing.
Daar is ’n geruime tyd lank met hom in die strate rondgery, voordat die ontvoerders vir brandstof by Engen Braodway Motors gestop het.
Daar het mnr. Van den Heever probeer vlug.
Hulle het hom egter oorrompel en terug in die kar gedwing.
Lees ook: Ontvoerde man minute gelede ongedeërd gevind langs N12
Daar was aanvanklik nie veel met hom gepraat nie, maar na sy ontsnappoging het die mans gesê dat hulle hom gaan doodmaak, opkap en sy liggaamsdele in ’n dam gooi.
Hy het aanhou pleit vir sy lewe en eindelaaste vir sy ontvoerders gevra of hulle besef hulle is by die vulstasie op videokameras opgeneem.
Dis toe dat die ontvoerders op die N12 uit is en hom langs die pad afgelaai het.
Een van die ontvoerders is reeds geïdentifiseer en arrestasies word vandag nog verwag.
Die ontvoerder is ook van eMalahleni.
