Roosmarie in tronk, sal moet leen vir R2000 borg
Roosmarie van Staden wat teregstaan op diefstalklagtes, terwyl klagtes van bedrog ook teen haar ondersoek word, is borg van R2000 toegestaan tydens haar eerste verskyning in die landdroshof nadat sy in Bothaville gearresteer is.
Sy sit egter al meer as ’n week in die tronk omdat sy volgens hofrekords nog nie die R2000 borg kon betaal nie.
Dit blyk asof sy die geld sal moet leen, maar dis juis wat haar in die pekel het!
Tydens ’n oproep op haar nommer die week, het haar broer uit Bothaville gesê dat Roosmarie hom verlede Donderdag uit die tronk geskakel het met die nuus dat sy aangerand is.
Hy het die naweek in ’n Sondagblad gelees dat Roosmarie uit is op borg, maar dat sy voet by stuk hou dat sy in aanhouding bly tot haar volgende verskyning, Vrydag, 27 Januarie.
Hy ontken dat hy haar borg betaal het.
“So ver ek weet is sy in aanhouding,” het die man, wat geweier het om sy identiteit bekend te maak, gesê.
Lees ook: Vrou vas wat glo vals Juanita du Plessis kaartjies verkoop
Roosmarie staan plaaslik tereg op minstens twee diefstal klagtes nadat sy geld onder valse voorwendsels by inwoners geleen het, wetend dat sy dit nie gaan terugbetaal nie.
Sy het ook Juanita du Plessis kaartjies vir ’n vertoning, wat sy geweet het nie gaan plaasvind nie, verkoop teen R200 stuk.
Slenterdrag baadjies (hoodies) is ook vir die Juanita geleentheid verkoop.
Sy het selfs mense wat haar ingeneem het bedrieg, deur kaartjies aan hulle te verkoop.
Roosmarie het ook met haar destydse landheer se voertuig gaan brandstof ingooi, sonder om te betaal.
Nadat die klagtes teen haar geopen is en die polisie haar gekontak het, het sy egter uit die dorp gevlug, Bothaville toe.
Daar het sy haar streke voortgesit deur onder meer kos by ’n wegneemrestaurant te koop op rekening sonder om te betaal.
Sy het ook na bewering by die kroeg waar sy gewerk het geld en drank gesteel en ook die geld vir rekeninge wat vereffen is, vir haarself gehou.
Haar bedrog het sy verdoesel as fooitjies op die kroeg se rekenaarsisteem, en daarom kon boekhouers dit tot onlangs toe nog nie vasstel nie.
Verskeie Bothaville inwoners het ook reeds geskakel oor geld wat sy by hulle geleen het, soos in Middelburg, waar inwoners onder andere vir haar geld geleen het “om haar broer van die straat af te kry, of haar pa by te staan wat langs die pad gaan staan het”.
In Bothaville het sy ’n gebreekte poelstok as haar eie voorgehou, om R1500 uit die persoon wat die stok gebreek het, te swendel.
Die saak is uitgestel vir ’n pleitverduideliking vandag, waar sy ook die hof kan nader vir borgvermindering.
