Drama met ‘springhaas’ boef het al vroeg begin
Die drama met die boef wat soos ’n springhaas oor mure gespring en op ’n stadium in ’n dak weggekruip het, het al vroeg begin met die Middelburg Dagpatrollie wat hom gejaag het.

Mnr. Arthur Hill (Middelburg Dagpatrollie) sê hulle het “hom al van vroeg af gejaag, so tussen 11:00 en 12:00.”
Patrollielede het uitgejaag nadat ’n vrou laat weet het dat sy ’n man in haar erf betrap het wat ’n fiets wou steel in Duikerstraat.
“Die vrou het haar boeglam geskrik, want toe sy omdraai het hy agter haar gestaan en was besig om die fiets te steel.”
Sy het op hom geskree, waarop hy haar gestamp het dat sy val en in die rigting van die hek gehardloop.
Die vrou het egter aangehou skree, waarop hy die fiets by die hek gelos en weggehardloop het.
’n Klein rukkie later het een van die Middelburg Dagpatrollielede hom opgemerk waar hy in Kiepersolstraat afloop met ’n sweismasjien.
Die booswig het die patrollielid gesien, die sweismasjien neergesmyt en oor mure begin spring.
Lees ook: Dief soos springhaas oor mure voor hy vasgetrek is
“Hy het daarna begin mure spring. In Tambotiestraat het hy in ’n boot gekrap en waarskynlik die bootradio gesteel. Hy het ook daar van klere verwissel en dit in die motorhuis gelos,” sê mnr. Hill.
Mnr. Hill sê dat reaksielede van Mid Alarms en later ook van Titon Sekuriteit op ’n stadium by die soektog aangesluit het, toe van hulle kliënte paniekknoppies gedruk het.
Vanaf Tambotiestraat het die booswig gespring na Mimosastraat se kant toe en toe na Kareestraat.
“Nadat hy in die dak weggekruip het, was hy weer vir ’n lang ruk stil. Ek was net vyf minute weg om my dogter te gaan haal, toe die boodskap deurkom dat Mid Alarms hom in Palmstraat betrap het.”
Alhoewel van die huiseienaars opgespoor is by wie se huise hy artikels soos verlengingskoorde en die bootradio gesteel het, terwyl hy in erwe gespring het, word daar nog gesoek na die eienaar van die sweismasjien.
Mnr. Hill sê die persoon aan wie die sweismasjien behoort, kan hom bel by 083 870 9693 en ’n beskrywing gee van die masjien.
