Hokaai, dié Hoyas lyk soos feëtjies wat dans
Vanessa Breytenbach glo dat elke mens groen vingers het. “As ek ’n plant kan laat groei, kan enige mens dit doen.”
Vanessa was vir 30 jaar werksaam by Absa in Pretoria, en vir die laaste 10 jaar van hierdie 30 jaar, was sy ’n privaat bankier. In hierdie tydperk het sy nooit eers ’n plant in haar huis gehad nie en nooit haar passie vir plante besef nie.
Vandag het sy meer as 3 500 Hoyas, waarvan sowat 500 verskillende tipes, waarmee sy woeker, steggies maak, plant en verkoop.
Vanwaar kom die Hoya?
Die Hoya, ook bekend as die sogenaamde wasplante of porseleinblomme, kom oorspronklik van Suidoos-Asië, Australië en Nieu-Guinnee.
Dié spesies is gewoonlik meerjarige klimplante of soms struike met melksappe.
Sommige spesies klim uit die grond opwaarts teen bome of heuwels, maar die meeste is epifiete. Hulle klim deur hulself te vleg om boomstompe en met die hulp van lugwortels.

Die sukkulente blare is teenstandig, maar die vorm, hoeveelheid hare, dikte en kleur van die melksap wissel baie.
Die blomme van die Hoya sit in ’n skerm op ’n steel en lyk soos ’n sambreel.
Nektar word geproduseer in ’n blombekleedsel en elke tipe Hoya skei ’n ander reuk af. Sommiges ruik lekker, soos kaneel of parfuum, terwyl ander nie so lekker kan ruik nie en selfs dalk na ’n sterk skoonmaakmiddel kan ruik.
Clivias ook beskikbaar
Behalwe haar groot hoeveelheid Hoyas, beskik sy ook oor ongeveer 1 000 geteelde Clivias en ander tropiese plante soos die Dischidia, familie van die Hoya, en ook Ceropegia plante, bekend as hangplante soos die String of Hearts en String of Needles.
Haar kweekhuis en huis is geleë op ’n plaas buite Marble Hall, maar sy is besig om te verhuis na ’n ander perseel 10km verder, waar sy ’n groter kweekhuis opgerig het, sodat haar liefde vir die Hoya, kan uitbrei.
Wannneer het liefde vir plante begin?
Vanessa kom oorspronklik van Pretoria af, maar bietjie meer as drie jaar in die Loskop Vallei omgewing.
Sy vertel dat sy 35 jaar na skool ’n vriendin raakgeloop het wat in Pretoria op ’n plot bly.
Hierdie vriendin is ’n absolute plante-mens en plante is haar stokperdjie.
Sy is ook ’n liefhebber van tropiese plante en dit is hier, waar Vanessa besef het dat sy al die jare ’n behoefte het om haar passie uit te leef.
“My vriendin kweek spesifiek Clivias. Dit is toe ek hierdie Clivias in hul blomseisoen beleef het, dat ek verlief geraak het op plante in geheel, maar met ’n baie intense belangstelling in die Hoya.”

Hoyas steel haar hart
In 2018 het sy Thailand toe gegaan en verskeie Hoya-plase besoek
“Uiteraard is die Hoyas regdeur die jaar daar in blom, as gevolg van die klimaat en hoë humiditeit. Dit was beslis ’n belewenis om hierdie plase te besoek.”
Sy het met verskeie nuwe Hoyaspesies teruggevlieg na Suid-Afrika.
Van toe af het sy ook Hoyas ingevoer vanaf plekke soos Maleisië en Indonesië.
Sy vertel dat dit maklik is om die permitte te bekom om Hoyas in te voer. Dit word aanlyn gedoen, jy betaal die fooi, maar moet spesifiek wees oor waar jy die Hoyas vanaf gaan invoer, en dan is die permit vir ’n jaar geldig.
Haar mikpunt is om weer Thailand toe te gaan en nog Hoya-plase te besoek om met nóg Hoyas terug te vlieg.
Vanessa het ook drie tipes Hoyas wat afskomstig is van Australië in haar kweekhuis. Sy sê dat hierdie Hoyas makliker groei, omdat Australië min of meer dieselfde klimaat het as Suid-Afrika.
Skaars plante en feëtjies
Van haar skaarsste plante kom van Indonesië af, aangesien daar tans baie nuwe spesies is.
Sy vertel dat van haar gunsteling Hoyas in haar kweekhuis, ook van die skaarsste Hoyas is.
“Die Hoya Clemensorium van Indonesië is een van my gunstelinge weens sy pre-historiese voorkoms van die blare, asook die Hoya Caudata ‘Sumatra’ van die Sumatra-eiland in Indonesië weens die voorkoms van die blare en die blomme.
Dié Hoya maak lieflike blomme en maak rooi roesbruin en geel blare. Die blommetjies lyk ook of feëtjies daar kan dans en speel in die aande. Maar eintlik het ek baie gunstelinge!”
Hoyas is reeds van die vroeë 1800’s in die omloop, maar dit het eers die afgelope 10 tot 20 jaar gewild begin word.
Hoe kyk jy na jou Hoyas?
Daar moet so na as moontlik as die Hoya se eie natuurlike klimaat geskep word en hulle moet goeie voeding kry.
“My 3 500 plante word elke Vrydag met ’n mengsel van kunsmis behandel.”
In die somer en lente kry haar plante hierdie voeding elke Vrydag, in die winter kry hul minder gereeld water en kry meer blaarvoeding, wat ook deel uitmaak van die produkte-reeks wat sy van gebruik maak.
Die plante hou nie van direkte son nie.
“In die natuur groei hulle in bome, so daar is gefilterde son wat hulle bereik en leef hul van reënwater en humiditeit in die lug.”
Hulle het nie baie water nodig nie en het ’n baie fyn wortelsisteem.
Nog Hoya drome
Sy droom daarvan om nog ’n groter verskeidenheid Hoya plante te bekom, asook om self na nuwe spesies Hoya te gaan soek.
“Daar is in die Filippyne Hoya-soekers wat in die bosse en woude ingaan op soek na nuwe spesies.”
Sy wil ook graag handbestuiwing doen op haar Hoyas om op die manier haar eie Hoya plant te hê.
Vanessa het reeds daarmee begin, maar dit is baie fyn en tydrowende werk.
@middelburgobserver Vanessa Breytenbach boer met oor die 500 Hoyas
