Bejaarde (80) beboet vir toe hek
’n Bejaarde (80) moes ’n dokter besoek, nadat sy “sleggesê is” deur ’n munisipale wetstoepasser wat gewapen by haar tuinhekkie saam met ’n bou-inspekteur opgedaag het.
Die vrou se dogter, wat anoniem wil bly, sê dat die bou-inspekteur omstreeks 09:00 met twee wetstoepassers by hul huis opgedaag het.
“Die vroulike bou-inspekteur en vroulike wetstoepasser was nie sigbaar vir my ma nie, sy het net die man voor die hek met ’n wapen op sy heup gesien.
Die man het dadelik op haar ma begin skreeu om die hek oop te maak.
Sy het drie maande gelede die huis gekoop en ’n stoorkamer aangebou.
Tydens die konstruksie is bourommel op ’n ander hoop bourommel, in ’n nabygeleë erf waar ’n woning ook in aanbou is, gegooi.
“Die man het aanhou bulder dat daar vir hom oopgemaak word, ten spyte dat my ma bewend van vrees was,” sê die vrou.
Sy het dadelik huistoe gejaag toe haar ma haar skakel.
Die drie is toegang tot die erf gegee, waar drie boetes aan haar uitgereik is.
“Een van die boetes was vir die bourommel, die ander vir ’n onwettige struktuur en die derde dat my ma nie die vreemde man sonder my teenwoordigheid by die erf wou inlaat nie.”
Lees ook: Gholfsig inwoner deur villisverwyderaars aangerand
Saterdag het sy die bourommel laat verwyder en daar word tans gewag op ’n tekenaar vir die stoorkamer om op die bouplanne aangebring te word.
“Die drie boetes is saam twee kennisgewings oorhandig, wat my 14-dae van uitreiking kans gun om sake reg te stel,” sê die klaer.
Volgens haar is die boetes, altesaam R5 000 wat reeds betaal is, “moedswillig”.
Die vrou sê dat sy verantwoordelikheid aanvaar vir die bourommel, “dit was ’n fout wat ek respekvol erken het”.
“Wat my egter pla is hoe my ma behandel en uitgeskel is, ekself voel nie gemaklik daarmee om vreemde mans toegang tot my erf te gee nie, uniform of nie”.
Die vrou sê dat haar ma Vrydag dokter toe moes gaan nadat sy die vorige nag nie kon slaap nie weens nagmerries.
“Al wat heeltyd voor haar slapelose oë afgespeel het was die bulderende man met die rewolwer op die heup”.
Munisipale kommunikasiehoof, me. Prudence Magutle, sê dit is ongehoord dat inwoners beboet word omdat hulle nie die hek vir ’n amptenaar wil oopmaak nie, “dis bog!”.
Sy het gevra vir bewyse van die boetes sodat ondersoek ingestel kan word, daaroor, en oor die boete vir die stoorkamer.
“’n Boete word eers opgelê sodra die kennisgewingtydperk verstryk het en daar nie gehoor aan gegee is nie”.
Die klaer het die ondersoek verwelkom.
