News

Seun in selle na pa se aanranding oor vullisvraag

Mnr. Michael Engelbrecht sê dat hy onnodiglik uitgekryt word as rassis nadat hy gister na bewering deur twee munisipale vullisverwyderaars in AG Visserstraat aangerand is.

Mnr. Engelbrecht het te voet agter die vullistrok aangeloop om te hoor hoekom die werkers nie swart asblikke meer leegmaak nie.

By die trok gekom het die drywer vir hom gevra hoekom hy hom nie groet nie, waarop mnr. Engelbrecht hom geantwoord het dat hy al blokke ver agter die trok aan was, maar deur hulle geïgnoreer is.

Hy sê die drywer het hom hierna te lyf gegaan waarna hulle op die sypaadjie beland het.
Volgens hom het een van die vulliskollekteerders toe ingetree en hom ook aangerand.

Mnr. Engelbrecht sê hulle het hom geskop en geslaan voordat hy terug huistoe is.

Toe sy seun Stefan (32) by die huis kom en hoor wat gebeur het, het hy die vullistrok agterna gesit.
Hy het die trok in Totiusstraat gewaar waar daar toe ook ’n onderonsie ontstaan het.

Lees ook: Gholfsig inwoner deur vullisverwyderaars aangerand

Gedurende die onderonsie is een van die trokke se ruite na bewering deur die jong Engelbrecht uitgeslaan.

In die harwar het die trokdrywer Engelbrecht junior se karsleutels uit sy ma se hande gegryp en geweier om dit terug te gee.

’n Groot groep munisipale wetstoepassers, insluitende hul hoof, het toe op die toneel opgedaag, waarna die karsleutels aan die Engelbrechts terugbesorg is.
Teen die tyd was hulle voertuig sopnat gereën.

Die spulletjie is toe polisiestasie toe waar Stefan gearresteer is vir opsetlike saakbeskadiging.

Daar word beweer dat hy R30 000 se skade aan die trok aangerig het, en hy is oornag in die aanhoudingselle gehou.
Hy sal vandag in die hof verskyn.

Mnr. Engelbrecht, wat tot omstreeks 21:00 by die polisiestasie was, is nie by sy seun toegelaat nie, maar sy vrou wel.

Mnr. Engelbrecht voel dat die hele situasie vermy kon word, as daar net sonder enige bytende opmerkings aan hom gesê is dat die munisipale regulasies rakende vullisverwydering verander het, sodat net groen stootdromme leeggemaak sal word.

Dit was die tweede voorval in twee weke wat munisipale amptenare lede van die publiek geroskam het omdat hulle kwansuis nie vriendelik groet nie.

Die ander voorval word reeds intern ondersoek nadat ’n bejaarde vrou, wat moeilik stap, hulp geweier is by die burgersentrum omdat sy nie beleefd gegroet het terwyl die twee amptenare gesit en eet en tee drink het nie.

Die polisie het wel aanrandingsklagtes teen die twee munisipale vullisverwyderaars oopgemaak, maar geweier om ’n derde te registreer vir die sleutels wat hardhandig gegryp is.

Mnr. Engelbrecht besoek vandag ’n dokter vir ’n mediese ondersoek en verslag.

Hy sê hy gaan beslis die munisipaliteit siviel vervolg en ook aandring op voertuigrekords van die betrokke departement waar bestaande skade aan vullistrokke aangeteken is.

Mnr. Engelbrecht sê hy het gesien dat die trok se windskerm reeds gekraak was voor sy seun betrokke geraak het.
Intussen word hy van rassisme beskuldig wat hy ten sterkste ontken.

“My bure is swart en ek stoor selfs van my voertuie in hule erwe, daar’s geen drama nie,” sê hy.
“Ek wou bloot weet hoekom sekere vullis agtergelaat word.”

Mnr. Engelbrecht sê dat daar ’n “munisipale grootkop” by die polisiestasie aangekom het om die situasie te ontlont.

“Sy was respekvol en vriendelik en ek bedank haar vir haar moeite, al kon sy niks uitrig nie.”

Die twee munisipale vullisverwyderaars is nie in hegtenis geneem nie.

’n Dagvaardiging vir hulle om in die hof te verskyn sal eers uitgereik word na die ondersoek afgehandel is, en staatsaanklaers saamstem dat hulle ’n saak het om te vervolg.

• Munisipale woordvoerders kon nie bereik word vir kommentaar nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button