Groen kapsules na geveg in parkeerterrein gekry
’n Groot klomp groen kapsules is gisteroggend met ligdag in die parkeerarea tussen die besighede op die hoek van Cowen Ntuli- en Walter Sisulustraat gekry.
Daar word bespiegel of dit iets te doen kon gehad het met die geveg in die vroeë oggendure langs Hoofkantoor op ’n stoep waar ’n man se kop deur ’n venster geslaan is.
Die kapsules was nie in ’n sakkie nie en het rond en bont in die parkeerarea gelê, asof dit uit iemand se sak geval het wat geloop of gehardloop het vanaf die parkeerarea se kant af in die rigting van Walter Sisulustraat.
’n Paar van die kapsules was reeds stukked getrap of stukkend gery.
Sakelui en van die kliënte wonder of dit nie van die dwelms is wat dwelmverslaafdes, wat tussen die besighede slaap in die nagte, kon laat val het nie.

• Die huurders is almal keelvol vir die verslaafdes wat hul stoepe en ingange in die snags gebruik vir slaapplek.
“Dit gaan al jare so aan. Elke oggend moet ons voor ons oopmaak eers skoonmaak wat hulle daar gelos het. Van urine en ontlasting tot leë dwelmsakkies is die goed wat ons elke dag kry! As ’n polisieman net één aand met ’n ongemerkte voertuig daar gaan sit, gaan hulle baie verslaafdes en hul dealers vastrap!”
• Met die joernalis se aankoms om te kyk na die kapsules, het daar vier verslaafdes aan Cowen Ntulistraat se kant gesit en nie omgegee wie hulle sien nie. Hulle het doodluiters hul rug op almal gedraai en op die sypaadjie hulself gespuit.
Dit was op presies dieselfde plek waar twee dwelmverslaafdes sowat twee weke gelede voor almal se oë hul dwelms gereed gemaak en hulself gespuit het.
