Inwoners verdien beurtkragvrye munisipaliteit
“Geen instandhouding of vervanging van verouderde kraginfrastruktuur is die afgelope jare deur die munisipaliteit geprioritiseer nie.”

“Die Steve Tshwete-plaaslike munisipaliteit (Hendrina, Middelburg, Pullenshope, Rietkuil) moet dringend alternatiewe metodes ondersoek om sy eie energie op te wek om lang beurtkrag-periodes te omseil,” het Juanette Mentz, VF Plus-raadslid: Steve Tshwete-plaaslike munisipaliteit, in ’n persverklaring gesê.
“Die huidige vlaag beurtkrag het die munisipaliteit se onbevoegdheid en sy gebrek aan instandhouding van kraginfrastruktuur uitgewys.
“Geen instandhouding of vervanging van verouderde kraginfrastruktuur is die afgelope jare deur die munisipaliteit geprioritiseer nie.
“Die kragsubstasies kan, wanneer dit weer aangeskakel word na beurtkrag, nie die kragstuwings hanteer nie en skop dan uit tot groot frustrasie van inwoners.
“Tydens beurtkrag word kragkabels gesteel. Al word die nuwe kabel deur die dag vervang, word dit dieselfde nag weer gesteel.”
Me. Mentz het gesê die VF Plus gaan vasstel of die diefstalle by die polisie aangemeld word en of enigiemand ooit in verband daarmee in hegtenis geneem is. Indien dit wel aangemeld word, moet die polisie verduidelik waarom daar nie meer gedoen word om die infrastruktuur te beskerm nie.
“Die inwoners moet ook vir ure of selfs dae ná beurtkrag met min of geen water klaarkom. Die enigste manier om aan die gemeenskap water te lewer, is deur middel van watertrokke wat die munisipaliteit moet voorsien.
“Daar is nie genoeg tyd tussen beurtkragure vir die watervoorsieningsnetwerk om reservoirs op te vul nie.”
Sy sê alle watervoorsieningsaanlegte in die Steve Tshwete-munisipaliteit moet permanent van beurtkrag vrygestel word.
Die munisipaliteit moet ook ondernemings en inwoners aanmoedig om elektrisiteit op te wek. “Finansiële aansporing kan in ruil vir elektrisiteit gegee word.”
“Die VF Plus sal alles in die stryd werp om alternatiewe energie ? werklikheid te maak aangesien inwoners ? beurtkragvrye munisipaliteit verdien.”
