News

Man se verdwyning: “Daar is groot fout!”

Abie Pansegrouw voel hy soek “na ’n naald in ’n hooimied”.

Mnr. Van Niekerk het gister verdwyn en is omstreeks 15:30 deur mnr. Deepraj Singh op die brug oor die N4 gesien. Hy het by hom gestop om hom op te laai, maar mnr. Van Niekerk wou nie inklim nie en gesê “hy moet oefen”.

Nadat hy vir hom water gegee het, het mnr. Van Niekerk verder gestap. Sedertdien het sy spoor doodgeloop.
Mnr. Singh het vanoggend Hendrina toe gery om mnr. Van Niekerk te soek.

In dieselfde tyd het mnr. Pansegrouw, wat ’n vriend is van mnr. Van Niekerk, ook Hendrina toe gery om hom te soek.

Lees ook: 

Vrou rasend van bekommernis nadat man verdwyn ‘op pad na veiling’

“Ek het die hele Hendrina deurkruis en ry nou 60km per uur terug in Middelburg se rigting om te kyk of ek hom sien. Maar hoe en waar soek ek? Ek is verward. Moet ek afdraaipaaie vat?”

Mnr. Pansegrouw sê wat gister gebeur het, “is heeltemal uit sy aard uit. Hy sou nie daar gaan stap het nie. Iets moes gebeur het.”
Wat hom dronkslaan, is dat mnr. Van Niekerk se vrou, Michelle, dink dat hy na ’n veiling toe sou gaan.

“Renier het seker nie al die detail gegee nie en sy het aangeneem hy sou saam met my veiling toe gaan, maar ons het ander planne gehad.”
Hy sê dat hy en mnr. Van Niekerk al vir jare vriende is en dat hy elke tweede naweek saam met hom plaas toe gaan.

“Hy is ’n briljante dieselwerktuigkundige en het alles vir my en my broer, Gustav, op ons plase reg gemaak. Hy sou na iets kyk, dit uithaal en dan perfek regmaak. Hy is nie soos die jonger werktuigkundiges wat dit net uithaal en met ’n ander part vervang nie.”

Lees ook:

Vreemde gedrag voor man verdwyn

Mnr. Pansegrouw sê hy en mnr. Van Niekerk het Sondag hul Maandag beplan.

Die plan was dat mnr. Van Niekerk met die bakkie, wat hy besig is om reg te maak, ’n waentjie sou gaan haak. Dan sou hy ry na mnr. Pansegrouw se huis, waar hulle met mnr. Pansegrouw se bakkie die waentjie sou aanhaak en twee beeste op mnr. Pansegrouw se plaas gaan oplaai.

“Die bakkie wat hy mee sou ry, is juis Gustav se bakkie wat hy besig was om reg te maak. Die bakkie het lank in ’n stoor gestaan en Renier het dit gesien en gesê hy kan hom regmaak. Gustav het vir hom gesê hy kan as hy die bakkie regkry, maar vir eers met hom ry. Renier het die bakkie al aan die gang gehad.”

Sy vriend se optrede van vroeg die oggend af is vir hom ’n raaisel.

“Ek weet nie hoekom het hy nie met die bakkie gery nie!”

Mnr. Pansegrouw sê hy het reeds met die werkers op die plaas gereël om die beeste in ’n drukgang te jaag, waar hy en mnr. Van Niekerk dit sou oplaai en dan Stoffberg toe sou neem om geslag te word.

Hy het tot 09:00 gewag en mnr. Van Niekerk gebel, maar sy foon was af.

“Daar was mos baie beurtkrag gister en ek het gedink dit is hoekom sy foon af is.”

Toe hy teen 12:00 steeds nie kon deurkom nie, het hy besluit om hul planne na ’n ander dag te skuif, aangesien dit laat geraak het.

“Ek kon ook nie deurkom na die mense op die plaas nie en het 14:00 self plaas toe gery om vir die werkers te sê om die beeste uit die drukgang te jaag, terug veld toe om water en kos te kry.”

Laat gistermiddag het hy eers verneem dat daar gesoek word na mnr. Van Niekerk.

“Wat het hy op daardie pad gesoek? Daar is groot fout!”

•Enige persoon wat dalk gister vir mnr. Van Niekerk gesien het of weet waar hy hom bevind, kan me. Van Niekerk bel by 082 438 8570.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button