Renier ‘weer homself’ vandag
Man kan steeds nie onthou wat gebeur het tydens sy verdwyning nie.
Renier van Niekerk is weer sy ou self, maar kan nie onthou wat met hom gebeur het nie.
Mnr. Van Niekerk het Maandag vanaf sy huis in Walter Sisulustraat verdwyn en is gister in Ermelo gevind.
Sy vrou, Michelle, sê Renier het vir haar vertel dat hy “weer begin registreer het gistermiddag toe hy voor die kerk in Debruinpark in Ermelo staan.”
Hy het gaan hulp soek by ‘n vriend, wat hom na sy skoonouers toe geneem het.
Lees ook: Man wat verdwyn het “kan niks onthou nie”
“Hy kan niks onthou vandat hy ons die oggend gegroet het nie!”
Me. Van Niekerk meld dat die speurders by hulle was en ‘n verklaring geneem het rakende die gebeure.
Daar is vir hulle gesê dat hulle hom kan dokter toe vat as hulle so voel.
Hulle beplan om hom dokter toe te neem sodra hulle terug is in Middelburg. “Die staatshospitaal se mense staak ook hier, so ons kon hom nie vat vir toetse nie! Hy is baie moeg, seer en styf, maar hy is homself vandag.”
- Familie en vriende van mnr. Van Niekerk wonder steeds wat met hom gebeur het in die dag en half wat hy weg was, maar hulle is saam met sy gesin dankbaar dat hy nie ernstige beserings opgedoen het nie.
