News

Vrou glo ‘Here het inbrekers in gang gekeer’

Die inbrekers het die diefwering geknip en die blinders opgeknoop, sodat dit nie kon afsak nie.

“Die Here het ons beskerm!” So sê ’n vrou by wie daar gisteraand ingebreek is.

“Die modder voetspore was net in die voorste gedeelte van die huis. Die Here het in daardie gang gestaan en gesê: ‘Julle gaan nie hier verby nie,” het me. Lenice Fondse gesê.

Daar is deur die loop van die nag by hul huis in Lilian Ngoyistraat (Kanonkop) ingebreek en hul huishulp het vanoggend om 05:30 van die boeke, wat in me. Fondse se skootrekenaarsak was, in die oprit opgetel.

Dié inbraak volg presies ’n week nadat daar net etlike huise van hulle af verlede week in dieselfde straat ingebreek is.

“Met die ander inbraak verlede week in die straat, het ons honde en kokketiel verskriklik tekere gegaan en ons het die volgende oggend gehoor daar is by die mense ingebreek. Ons honde en kokketiel was laasnag doodstil. Die honde het nie geblaf nie. Hierdie is proffesionals wat ingebreek het!”

Oral in die voorste gedeelte van die huis, was die modderspore van die inbrekers op die vloer sigbaar.

Me. Fondse het kort na beurtkrag, omstreeks 23:00, gou al die ligte afgesit wat hulle aan vergeet het. Sy is daarna bed toe.

Deur die nag het hul agtjarige dogtertjie haar wakker gemaak, omdat sy nie alleen wou slaap nie en sy het by haar gaan lê.

“Ek is so dankbaar dat hulle nie na die kamers toe gekom het nie. Al die kamerdeure was toe.”

Die inbrekers het die diefwering geknip en die blinders opgeknoop, sodat dit nie kon afsak nie.

Buiten die televisie wat in die sitkamer was, het die boewe in ’n laai gekrap en onder andere ’n Playstation 3 gevat.

Die booswigte het ook weg gekom met albei haar skootrekenaars, wat sy tuis en by die skool gebruik (me. Fondse is ’n onderwyseres). Twee selfone word ook vermis.

Lees ook: Me. White vertel dat hulle presies om 02:35 gewek is met Kettie (doberman pinscher) en Prop (worshond kruising) se geblaf in die huis.

“Ek het die laaste week gebid vir ons veiligheid en beskerming en al is ons hartseer oor die inbraak, prys ons die Here dat ons niks oorgekom het nie.

Hierdie is ’n getuienis van hoe groot die Here is. Ons moenie gebed onderskat nie. Ek het gevra en Hy het ons beskerm, ons veiligheid was vir Hom die belangrikste.”

• Alhoewel die inbrekers ingegaan het by ’n deel van die huis waar die honde nie by hulle kon kom nie, sou die honde wel geblaf het as daar iemand in die erf was. Die kokketiel, wat ook vir alles lawaai maak, was self doodstil.

Die erf het elektriese omheining en die een draad hang vanoggend slap, wat ’n aanduiding is dat die boewe iets oor die omheining gegooi het om oor te klouter.

• Die gesin het vanoggend die veiligheid by die huis nog meer opgeskerp.

• Net sowat ’n blok van daar af, is ’n hond laasnag in Renosterstraat vergiftig.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button