’n Inwoner van Kanonkop is seker haar hele huis in Springbokstraat sou leeggedra gewees het, was dit nie vir die wakker optrede van noodgroepe nie.
“Hulle het my Sondagnag kort na middernag gebel om te sê daar is by my huis ingebreek. Hulle het selfs ’n spaarsleutel gaan haal om te kyk of hulle my huis kan beveilig na die inbraak,” het ’n vrou (wat anoniem wil bly) gesê.
Sy was weg vir die naweek en sou eers Dinsdag terugkom.
Dit blyk dat die inbrekers haar moontlik dopgehou het, want hulle het al vroeg by haar kamervenster ingebreek en die hoofskakelaar afgesit, sodat die alarm nie kon afgaan nie.
Sy het verduidelik hoe hulle die skerp staalpunte op die muur losgewoel en daarna bakstene in die muur uitgehaal het om toegang tot die erf te kry.
Daarna het hulle ingebreek en onder die ogies van die alarm gebly, waarskynlik gekruip, en die skakelaar afgesit.
“Hulle het tyd gehad om te kies wat hulle wil hê.”
Bo in haar kas in haar kamer, het die booswigte sportsakke uitgehaal en kaste begin uitgooi om artikels van waarde te soek en daarin te gooi.
Al haar ringe is gevat en die groep is na haar kinders se kamers.
Daar is al die kinders se klerasie deursoek en net bekende duur handelsmerk klerasie, skoene, tekkies en ander bybehore, uitgesoek.
Skootrekenaars is ook in die sakke gelaai.
Die vrou sê dat hulle in die kuier-area langs die huis was, want daar is haar seun se bergfiets gevat. “Ek het met my tuiskoms die kuierarea se sleutel in my kamer gekry.”
Sy vermoed die inbrekers was besig om die tweede of derde keer uit te kom met hul buit, toe die noodgroepe hulle opgemerk het.
Lede van die Dagpatrollie, Radiogroep Sektor 4 en Gemeenskapspolisiëringsforum Sektor 4 het Sondag hande gevat om patrollies te ry vir die beplande EFF staking van Maandag.
Terwyl van die lede opgery het in Springbokstraat, het hulle twee persone vanaf ’n huis se rigting af sien loop.
Toe hulle nader ry, het die een sakke neergegooi onder ’n bos oorkant die pad en koers gekies Stoffbergpad se rigting toe.
Die ander een het teruggehardloop na die huise se kant toe in Springbokstraat en oor mure gespring en verdwyn.
Met nadere ondersoek het hulle van die sportsakke, met gesteelde artikels daarin, gekry.
In die een sak, waarin ook ’n skootrekenaar was, het hulle dokumentasie gekry van die vrou en haar gekontak.
Sy het met net die grootste lof van die persone gepraat wat haar huis daarna beveilig en die polisie gekontak het.
Daar is baie artikels teruggevind, maar die boewe het weg gekom met ringe, die fiets en ander klerasie en skoene met ‘n totale waarde van ten minste R50 000.
Die vrou is Dinsdag na die polisiestasie om die inbraak aan te meld, aangesien sy op daardie stadium nog nie gekontak is deur die polisie om ’n verklaring oor die inbraak af te lê nie.
Woensdag het die speurders haar kom sien vir haar verklaring en Donderdag het sy ’n SMS boodskap gekry om te sê nadat alle inligting opgevolg is, die saak gesluit is. Die boodskap sê ook dat die saak heropen sal word, sou daar nuwe bewyse gevind word.
•Die noodgroepe het die verdagtes agterna gesit, maar die donker het die soektog bemoeilik en hulle het weg gekom.
Lees ook:
•Die vermoede bestaan dat dit dieselfde groep is wat in die laaste week by twee huise in Lilian Ngoyistraat ingebreek het terwyl die huismense gelê en slaap het.

