Gestremde man lê al week sonder hulp met gebreekte heup
“Daar word al van Sondag af gewag op ’n dokter.”

Die familie van ’n gestremde man wat ’n week in die hospitaal lê sonder hulp, het ’n joernalis van die Middelburg Observer paniekerig gebel vir hulp.
“Ons weet nie meer wat om te doen nie. Wimpie lê net daar in verskriklike pyn en ’n dokter het hom nog nie gesien nie,” het sy broer, Louis van der Merwe, gesê.
Mnr. Van der Merwe sê dat Wimpie (62) ’n inwoner is van Huis Betsie Louw en verlede week by hulle gekuier het.
Vrydag het hy gegly, geval en sy heup gebreek.
Hulle het met hom gejaag na die Witbank Hospitaal, waar die een skok op die ander gevolg het.
Daar was nie ’n bed beskikbaar vir Wimpie nie en hy het in Ongevalle gelê.
“Teen Sondag het hy steeds daar gelê en hulle het gesê daar is nogsteeds nie ’n bed beskikbaar nie!”
Lees ook:
Die familie is laat weet dat hy oorgeplaas word na Middelburg toe, omdat daar ’n bed vir hom beskikbaar is.
Gisteraand het mnr. Van der Merwe hom weer besoek in Middelburg en agtergekom dat sy broer “stink”.
Hy het navraag gedoen by een van die verpleegsters oor wat aan die gang is. Hulle het hom meegedeel dat daar nog nie ’n lêer vir sy broer oopgemaak is nie en hulle niks kan doen nie, omdat hulle wag vir ’n dokter van Witbank Hospitaal om hom te kom sien.
“Buiten die gebreekte heup wat hom erge pyn besorg, kry hy nou boonop blaas- en nierinfeksie en géén dokter het hom nog gesien nie! More (Vrydag) is dit ’n week dat ons hom hospitaal toe geneem het!”
Mnr. Van der Merwe het besluit om hom tot die media te wend, “om net vir Wimpie te help. Asseblief, hy weet nie hoekom moet hy in soveel pyn wees nie. Hy is verward en in ’n toestand. Sy heup is so groot soos ’n rugbybal geswel.”
• Die kwessie is onder die aandag gebring van die Provinsiale Gesondheidsdepartement se mediakantoor, wat beloof het om dadelik ondersoek in te stel.