Gestremde man was met kussingsloop
Wimpie van der Merwe (62), die gestremde man wat in die Middelburg Hospitaal lê, het by sy broer gekla dat sy lyf begin seer word.

Mnr. Louis van der Merwe is uiters bekommerd oor sy broer se welstand.
“Hy moet dringend ’n heupoperasie kry, want die heup is morsaf. Wanneer beland die murg in sy bloedstroom? Hulle kan hom nie juis beweeg nie, maar word hy ook nie beweeg nie, gaan hy bedsere en bloedklonte kry,” het hy omgekrap gesê.
Wimpie, ’n inwoner van Huis Betsie Louw, het in Kriel by sy broer gekuier, toe hy verlede Vrydag gegly en geval het.
Die gesin kon nie ’n ambulans in die hande kry nie en het self met hom na die Witbank Hospitaal gejaag.
Daar het hy tot Sondag in Ongevalle gelê.
Louis sê die Witbank Hospitaal se personeel het net vir hulle gesê die “heup is morsaf” nadat X-strale geneem is, maar dit is nooit vir hulle gewys nie.
Teen Sondag, toe hy steeds in die ongevalle-afdeling gelê het, het hulle hom oorgeplaas na die Middelburg Hospitaal, omdat daar nie ’n bed in die Witbank Hospitaal was nie.
“Hulle het die handdoek, waslappies en ander benodigdhede wat ons vir hom gegee het toe hy Witbank Hospitaal toe gevat is, net daar in Witbank gelos. Toe ek eergister by Wimpie was, het hy sy gesig gewas met sy kussingsloop!”
Hy kon sedertdien nie by Wimpie uitkom nie, omdat hy erge skade aan sy voertuig se wiel opgedoen het, nadat hy ’n slaggat getref het op pad Middelburg toe om vir Wimpie te kom kuier.
Lees ook
Louis sê hy sal more weer by hom kan uitkom.
Nadat hy sy lot bekla het by die joernalis en die artikel gister verskyn het, het ’n suster hom gebel.
“Sy was ongeskik en het gesê wat in die artikel staan is nie waar nie!”
Louis sê egter dit wat hy gesê het, is dit wat hulle weet.
“Daar is vir ons gesê Middelburg kan nie eintlik iets doen nie, want hy is Witbank se pasiënt. Alhoewel die suster gesê het dat daar wel al ’n dokter by Wimpie was, sê Wimpie daar was nog geen dokter by hom nie.”
Hulle gee darem vir hom pilletjies vir pyn.
“Pilletjies vir pyn gaan nie die probleem wegvat nie! Wimpie moet geopereer word, maar ons het geen idee wanneer dit gaan wees nie!”
• Die joernalis het navraag gedoen by die mediakantoor van die Provinsiale Gesondheidsdepartement wat gister dadelik die Middelburg Hospitaal gekontak het rakende die kwessie.
Mnr. Van der Merwe het gesê die suster, wat ongeskik was met hom, het gevra hoekom hy gaan kla het, want hul hoofkantoor het met hulle gepraat.
• Die provinsiale kantoor is in kennis gestel van die suster se houding en mnr. Christopher Nobela (mediawoordvoerder, Provinsiale
Gesondheidsdepartement) het onderneem om die kwessie met die hoof uitvoerende beampte van die Middelburg Hospitaal te bespreek.