Roosmarie alweer in die sop
’n Beloning van R5000 word aangebied vir inligting oor Roosmarie van Staden, wat sal lei tot haar suksesvolle arrestasie vir beweerde bedrog in Welkom.
Die tronkdeure het skaars agter Roosmarie toegeklap voordat die nuwe saak op 28 Maart teen haar aanhangig gemaak is.
Volgens die klaer het Roosmarie die besigheid met bykans R10 000 bedrieg.
Naas vervoerkostes het sy ook kontantlenings by die besigheid gemaak.
Sy het haar na bewering voorgedoen as ’n senior werknemer by Barloworld, min wetende dat sy opgeneem word.
Dis nie die eerste keer dat Roosmarie gebruik maak van vervoerdienste sonder om te betaal nie.
Plaaslik het sy ook gebruik gemaak van Go Mommy en vervalste betalingstrokies voorgehou toe die vervoerdiens haar konfronteer vir betaling.
Sy is in Februarie skuldig bevind aan die diefstal van ’n luidspreker na 16-dae in aanhouding.
Lees ook:
Sy is in Bothaville aangekeer nadat ’n plaaslike kroeg haar van bedrog en diefstal verkla het.
Roosmarie het na bewering die kroeg se betalingsisteem gedokter om betaalde kroeg en restaurantrekeninge as “fooitjies” vir haar te merk.
Sy het ook na bewering drank gesteel en deur die dorp op die kroeg se naam skuld gemaak by restaurante.
Na haar vrylating het Roosmarie tranerig gesê sy wil haar lewe regruk.
Sy het glo ’n werk by ’n skrootmetaalwerf aan die Rand aanvaar na haar skuldigbevinding, hoewel dit nie bevestig kon word nie.
Sy is in die luidspreker saak drie jaar gevangenisstraf of ’n R1500 boete opgelê, wat opgeskort is vir drie jaar.
Daar word vermoed dat sy laaglê en onder die radar beweeg weens die opgeskorte vonnis.
Mense met inligting oor waar Roosmarie haarself bevind kan die Welkom polisie by 057 391 6085, of 066 258 3431 skakel.
Saaknommer 873/3/2023 kan verskaf word.
