News

Dolf se verbronsde hoed en brahmane saam by laaste groet

Dolf Rossouw (85) was nie iemand vir tierlantyntjies nie - Dolf was ’n boer, ’n man van die veld.

Saterdagoggend toe daar van hom afskeid geneem is, was dit nie fanfare nie, dit was aangrypend eenvoudig.

Onder die wilgerbome op die plaas Rietfontein, waar Dolf in die sweet van sy aanskyn sy brood verdien het, het PR Schalekamp, Sheldon Haines, Theunis Rossouw, Naude Rossouw, Japie Rossouw en Hendrik Erasmus, sy kis uit die lykswa gehaal en om die hoek van die plaashuis gedra, tot waar familielede en vriende gesit het.

Nie ’n blink kis met goue handvatsels nie, ’n eenvoudige kis met plante op en tussen dit Dolf se bekende verbronsde hoed.

Begrafnisgangers onder die wilgerbome.

Dominee Nicolaas Steenekamp se “preekstoel” was ’n houtvaatjie. Hy het uit Kollosense 3:23 gepreek: “Wat julle ook al doen; doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.”

Sy boesemvriend, Gerrie Gerrits, het die bedankings gedoen en aangehaal uit Spreuke 18:24: “Die Bybel sê: In tye van nood leer jy jou vriende ken. Sommige praat net, maar doen niks nie. Ander sal alles vir jou doen. Hulle is nader aan jou as ’n broer. Dolf was nader aan my as ’n broer.”

Terwyl “nader my God by U, nog naderby…” geweemoed het, het ’n bees iewers gebulk.
Die begrafnisgangers het die entjie na die graf agter die lykswa aangestap.

Die verbronsde hoed op Dolf se kis.

By die graf het sy twee seuns, Francois en Steyn, die voorreg gehad om hulle pa se kis na die graf te dra, saam met kleinkinders Jacques Verwey en AJ Rossouw, skoonseun Tertius Verwey en familielid Erno Raath.

Net voor die kis gesak het is die verbronsde hoed verwyder. Skaars 30m van die graf af het Dolf se liefling wit brahmane belangstellend toegekyk, terwyl hulle aan voerbale vreet.
In plaas van roosblaartjies is ’n laaste eer betoon deur mieliepitte in die graf te gooi.

Neffens die plaashuis is die eetgoed uitgepak en daar was oral foto’s van Dolf in sy jong dae.

Iemand het opgemerk: “Hy het soos James Dean gelyk toe hy jonk was!”

Ds Nicolaas Steenekamp het die diens van Dolf Rossouw gelei.
Gerrie Gerrits, Dolf se boesemvriend, betoon ’n laaste eer deur mieliepitte in die graf te gooi. Sy dogter, Venessa van Niekerk, ondersteun hom.
By die graf van die legendariese boer en Middie ondersteuner, Dolf Rossouw.
@middelburgobserver

Laaste eerbetoon aan Dolf Rosouw

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button