Dolf se verbronsde hoed en brahmane saam by laaste groet
Dolf Rossouw (85) was nie iemand vir tierlantyntjies nie - Dolf was ’n boer, ’n man van die veld.
Saterdagoggend toe daar van hom afskeid geneem is, was dit nie fanfare nie, dit was aangrypend eenvoudig.
Onder die wilgerbome op die plaas Rietfontein, waar Dolf in die sweet van sy aanskyn sy brood verdien het, het PR Schalekamp, Sheldon Haines, Theunis Rossouw, Naude Rossouw, Japie Rossouw en Hendrik Erasmus, sy kis uit die lykswa gehaal en om die hoek van die plaashuis gedra, tot waar familielede en vriende gesit het.
Nie ’n blink kis met goue handvatsels nie, ’n eenvoudige kis met plante op en tussen dit Dolf se bekende verbronsde hoed.

Dominee Nicolaas Steenekamp se “preekstoel” was ’n houtvaatjie. Hy het uit Kollosense 3:23 gepreek: “Wat julle ook al doen; doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.”
Sy boesemvriend, Gerrie Gerrits, het die bedankings gedoen en aangehaal uit Spreuke 18:24: “Die Bybel sê: In tye van nood leer jy jou vriende ken. Sommige praat net, maar doen niks nie. Ander sal alles vir jou doen. Hulle is nader aan jou as ’n broer. Dolf was nader aan my as ’n broer.”
Terwyl “nader my God by U, nog naderby…” geweemoed het, het ’n bees iewers gebulk.
Die begrafnisgangers het die entjie na die graf agter die lykswa aangestap.

By die graf het sy twee seuns, Francois en Steyn, die voorreg gehad om hulle pa se kis na die graf te dra, saam met kleinkinders Jacques Verwey en AJ Rossouw, skoonseun Tertius Verwey en familielid Erno Raath.
Net voor die kis gesak het is die verbronsde hoed verwyder. Skaars 30m van die graf af het Dolf se liefling wit brahmane belangstellend toegekyk, terwyl hulle aan voerbale vreet.
In plaas van roosblaartjies is ’n laaste eer betoon deur mieliepitte in die graf te gooi.
Neffens die plaashuis is die eetgoed uitgepak en daar was oral foto’s van Dolf in sy jong dae.
Iemand het opgemerk: “Hy het soos James Dean gelyk toe hy jonk was!”



@middelburgobserver Laaste eerbetoon aan Dolf Rosouw
