News

Vrou vertel van aanranding, vasgemaak aan hospitaalbed

Chrizelda Blom (24) het pas weer die oomblikke waar sy vasgemaak was aan ’n hospitaalbed en aangerand is, soos ’n riller herleef.

“Hulle het my in ’n hoek vasgedruk en met die vuis geslaan. Daarna het hulle my soos ’n skaap aan my arms en bene na die bed gedra en my vasgemaak,” het me. Blom vertel.

’n Video wat ’n pasiënt se familie geneem het waar sy vertel van die aanranding, het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Sy het besluit om haar volle verhaal te vertel, “want ek gaan dit nie hier los nie!” Ek sal nooit weer na ’n hospitaal toe gaan nie, want ek is te bang!”
Me. Blom sê sy is verlede Dinsdag in die Middelburg Hospitaal opgeneem.

“Toe ek die eerste oggend, na my opname, wakker word, het ek kaal in my bed gelê met net ’n doek aan en ’n kateter in. Ek was ook vasgemaak.”
Sy was paniekerig en het om hulp geroep, waarna personeel haar losgemaak het.

Me. Blom sê dat sy van Dinsdag af gevra het wanneer sy iemand gaan sien, maar die persoon het nooit gekom nie.

Omdat sy bedags niks gehad het om te doen nie “en omdat die susters nooit my suiker, bloeddruk of enigiets anders gevat het nie” het sy begin geselsies aanknoop met van die pasiënte.

Die merke agter op haar been waar sy beweer sy met bed-belde geslaan is.

Sy het ook van die siekes probeer help met klein takies.

Me. Blom sê boonop was die personeel vies vir haar omdat sy vir die dokter, wat haar kom besoek het, gesê het dat die personeel geen aandag aan haar gee nie.

“Hulle het vir my gevra hoekom ek vir die dokter jok, waarop ek vir hulle gesê het, ‘ek jok nie, ek praat die waarheid!”

Sondagoggend het een van die pasiënte, met wie sy bevriend geraak het, erg naar geword.

“Die personeel het nie vir haar ’n bak gebring nie en ek het ’n bak gaan haal en ook ’n mop, want sy het op die vloer opgegooi.”

Terwyl sy besig was om die vloer skoon te maak, het ’n verpleegster vir haar gesê sy moet die bak en mop gaan bêre, want dit is nie haar werk om dit te doen nie.

“Ek het vir haar gesê ek sal die mop gaan bêre, maar ek kan nie die bak wegvat nie, want die pasiënt gooi nog op. Sy het vir my geskree: “You must not have a attitude with us!”
Me. Blom was baie ontsteld en wou ’n rukkie buite gaan sit.

“By die deur het die sekuriteitsvrou vir my geskree: ‘Back up, back up!’ Nog een het bygekom, my in die hoek vasgedruk en my met die vuis geslaan.”

Lees ook:

Jong vrou vertel op video hoe sy met gordel in hospitaal aangerand is

Volgens haar was sy baie ontsteld en het saam met ’n suster geloop tot by die rokers-area om rustig te probeer raak.
Sy was net ’n klein rukkie daar, toe omtrent 10 vroulike en mans sekuriteitslede op haar afstorm.

“Hulle het my daar kom haal en kamer toe gedra. Terwyl hulle my gedra het, het hulle my in die rug geskop.”
In die kamer is sy met gordels aan die bed vasgemaak. Sy onthou dat hulle haar ook met die gordels geslaan het.

“Hulle het my aan die nek beetgekry en gewurg en my ook in my gesig en in my maag geslaan. Die verpleegster wat wou help, is eenkant toe gedruk.”
Na die beweerde aanranding, het hulle haar vasgemaak aan die bed gelos.

“Ek kon nie asem kry nie en het ’n paniekaanval gekry, waarop ’n suster vir my suurstof gegee het.”
Me. Blom sê die aanranding het gebeur voordat die oggendpap omstreeks 09:00 gebring is.

“Hulle het my daar vasgemaak aan die bed gelos, totdat die dokter my omstreeks 16:00 kom losmaak het. Ek het ’n skoonmaker op ’n stadium gevra om vir my ’n bedpan te bring sodat ek net kon piepie.”

Terwyl sy daar gelê het, het ’n vrou ingestap gekom en “sorry” gesê. Me. Blom vermoed die vrou is deel van die sekuriteitsfirma. “Sy het egter nie gesê waarvoor sy sorry is nie.”

Me. Blom het gesien haar selfoon is ook stukkend (sy weet nie of dit tydens die beweerde aanranding geval en gebreek het nie) en sy het met ander pasiënte se fone haar man, Jonathan, gebel en gepleit dat hy haar kom haal.

“Hulle wou nie eers hê ek moes haar gaan haal of uitteken nie. Hulle het net gesê hulle sal haar laat gaan sodra sy die sielkundige gesien het! So sy is boonop teen haar wil daar aangehou!” het mnr. Blom omgekrap gesê.

Die egpaar het nie ’n kar nie en hy wou met ’n geleentheid haar gaan haal. Die paartjie sê hy sou egter nie toegang tot die hospitaal kon kry om haar te vat, sonder hul toestemming nie.

Me. Blom het aanmekaar gesmeek dat sy wil huis toe gaan en hulle het beloof dat sy ’n sielkundige sou gaan sien, maar die personeel en sekuriteit wou haar nie laat gaan nie.

Teen Maandag het ’n dokter haar na ’n sielkundige laat gaan en nadat sy ook by hom gesmeek het, kon sy uiteindelik huis toe gaan.

“Dit gaan verskriklik in daardie hospitaal. Die susters sit bedags en is besig met administratiewe werk, met ’n groot sak lekkers tussen hulle!”

•Mnr. Blom sê sy vrou is geweldig getraumatiseer en dat hulle met hul tuiskoms Maandag dadelik na die Hendrina Polisie toe is.

“Die polisie op Hendrina het egter gesê dat as ons ’n saak wil open, ons dit in Middelburg moet doen.”

• Mnr. Christopher Nobela (provinsiale woordvoerder, Departement van Gesondheid) het gesê dat hulle die beweerde aanranding ondersoek.

• Rdl. Deon van der Merwe het dit ook reeds aan die Wetgewer gestuur en gesê dat hulle die kwessie sal ‘verder vat’.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button