Skielik was die hart van rugby terug in die Mbombela-stadion
Rugby het in baie opsigte ’n sport geword waar 30 spiertiere in mekaar vashardloop en dan gaan hulle huistoe.
Weg is die dae waar seuntjies en dogtertjies op die veld kon hardloop om aan hulle helde te vat of ’n handtekening te kry.
Weg is die dae van verpersoonlikte rugbyprogramme met ’n boodskap van die president en interessante profiel van ’n speler.
Weg is die lekker onthaal na die tyd waar spelers en gaste saam kuier. (Deesdae speel hulle op Loftus en stap dan na die sentrum oorkant die pad om alleen saam met ander vriende by ’n restaurant te kuier).
Weg is die wag in die onthaalsaal met die keurders wat agter geslote deure in die sekretaris se kantoor sit en span kies. (Dalk die opwindendste oomblik van die dag).

Weg is die dae waar die skeidsregter nie bang was om saam te kuier en die skrobbering van spelers en afrigters te trotseer nie.
Weg is die hart van rugby.
Maar nie in Mbombela nie.
Geen wonder die Pumas het verlede jaar die Curriebeker verower nie.
Dit is nie ’n span vol Springbokke nie, maar doodgewone, goeie ouens wat omgee vir die hart van die spel.

Na Vrydagaand se oorwinning het hulle met toeskouers gaan gesels, vir hulle ondersteuners gesing en opgestap,om saam met die oud Suidoos spelers te kuier.
Hulle was helde…wat so pas die Westelike Provinsie geklop het.
Spelers wat van beserings herstel, was nie te goed om agter die kroeg in te spring en die gaste te bedien nie.
Daar is weer gesing en gekuier soos in die ou dae.
Alles waardes wat die Puma afrigter, Jimmy Stonehouse, by sy spelers tuisbring.

Eenvoudige dinge soos “jy stop nie met jou kar op ’n gestremde parkering nie, want jy het ’n beeld wat jy uitdra”.
Saam met ’n rugbyman soos uitvoerende hoof, Marius van Rensburg, wat groot moeite gedoen het vir die oudspelers se samekoms, is dit geen wonder die Curriebeker staan in die Mbombela-stadion se trofeekas nie.

