Polisie bevestig ontvoering en poging tot moord
Die polisie ondersoek ’n ontvoering- en poging tot moordsaak na die gebeure van Vrydagaand waar ’n man in ’n bakkie geskiet is.
Brig. Selvy Mohlala (provinsiale polisiewoordvoerder) het bevestig dat hulle die sake ondersoek.
Volgens hom het die polisie Vrydagnag ’n klagte ontvang dat daar ’n bruin Toyota Hilux buite ’n erf in Gholfsig staan, wat met ’n boom gebots het. Die voertuig was voor en agter beskadig.
“Met hul aankoms by die toneel, het hulle gesien dat daar niemand in die bakkie is nie, maar dat die voertuig vol bloed is. Hulle het ook bloedspatsels op die pad gekry.”
Hy sê dat die toneel deursoek is en dat patroondoppies gekry is.
Lees ook:
Die polisie het inligting opgevolg en die eienaar van die bakkie se broer opgespoor, wat vir hulle gesê het hy weet nie waar sy broer is nie. Hy het egter wel vir hulle gesê dat dat hy gekontak is deur iemand wat losprysgeld soek.
Die vermiste persone, wat in die bakkie was, was Dominique Chigopela (wie se broer gekontak is vir ’n losprys) en Xhosa Masango.
“Daar word beweer dat die broer toe reeds die geld betaal het wat die verdagtes geëis het,” het brig. Mohlala voorts gesê.
Hy het genoem dat die twee mans later gevind is en dat een in die hospitaal opgeneem is met ’n skietwond aan die been. Brig. Mohlala het nie uitgebrei oor waar die mans afgelaai of hoe ernstig die man met die skietwond aan sy been beseer is nie.
