Die man onder die silwer kombers roep na geregtigheid
Dit was op 27 April vyf jaar gelede, Vryheidsdag.
Ons was by die Middelburg Buiteklub. Op pad huistoe het daar polisievoertuie in Walter Sisulustraat by ’n huis gestaan.
Het eers niks daarvan gedink nie, maar besluit om te gaan kyk wat aangaan. Buite die erf het ’n bejaarde gestaan. Hy het gesê: “Drie rowers het oor ’n muur gespring en ’n man geskiet.”
Voordat die polisie my kon keer, ’n foto geneem van ’n liggaam onder ’n silwer kombers.
Bokant die silwer kombers was ’n seënbordjie: “Jirre seën ons huis en ons jaart.”
Is terug na die kar. Die bejaarde het gevra: “Is hy dood?” Hy het begin steier, uitgeroep: “O nee, my God!” en op die sypaadjie ineengestort. Het gehardloop om mediese hulp te kry…
’n Vrou het verward op die toneel rondgeloop, kindertjies het agter haar aangetou. Buite die polisie se sperlint het ’n man geteug aan ’n glas drank. Het vir hom gevra: “Is jy OK?” “Ja, f** man,” het hy geantwoord. En toe vra hy vir iemand: “Gaan gooi vir my nog ’n dop.”
My vrou, Mariana, het uit die bloute gesê: “Daar staan die skieter!”
Eers later het Bianca Coetzer gebieg, dit is die persoon wat haar man, Gerhard (29), doodgeskiet het.
Sedertdien spook die man onder die silwer kombers by my.
Waneer Neil Somers sing:
Maak my snoesig toe
In my silwerkombers
Want my tyd is uit
Soos die vlam van ’n kers …
…kan ek nie anders om aan die man onder die silwer kombers te dink nie.
Nie omdat sy vlam uit is nie.
Oor beelde van ’n paniekbevange vrou, met kindertjies wat huilend wat agter haar aanloop.
Die man wat op die sypaadjie ineengestort het.
Daai man weet wie het Gerhard geskiet, maar hy praat nie.
Die ander partytjiegangers weet, maar hulle praat nie.
Het hulle nie ’n gewete nie?
Gee hulle nie om vir daai klein kindertjies wat sonder pa groot word nie?
Vyf jaar!
En steeds roep die man onder die silwer kombers tevergeefs na geregtigheid.
