Motorfietsryer ernstig beseer na hy bees tref
Motorfietsryer twee keer in ongeluk op Loskoppad.
’n Motorfietsryer is per helikopter na die Netcare Milpark Hospitaal oorgeplaas, nadat hy tydens ’n tweede ongeluk Saterdag ernstige beserings opgedoen het.
Rudolph Hibbert (57) was in twee motorfietsongelukke, waartydens hy tydens die tweede ongeluk ernstig beseer is.
“Byna al die bene in my man se regter-arm is gebreek en hy is nou in teater. Die dokter is ook bekommerd oor sy asemhaling, omdat van sy ribbes gebreek en in sy long gesteek het,” het Rudolph se vrou, Sarie, vanoggend gesê.
Olivia Janse van Rensburg (Macs Familia Motorfietsklub) vertel dat Rudolph die oggend vroeg eers met sy Harley Davidson gery het op die Loskopdampad op pad na Go2 vir die ‘Sons of JHB-jol’.
By Doornkop het ’n bakkie voor hom ’n U-draai gemaak en het Rudolph die voertuig met sy motorfiets getref.
“Rudolph het gesê hy is okey en het met sy Harley teruggery huistoe om sy GS 1200 te gaan haal.”
Olivia sê hulle het al geëet by Go2, toe hulle omstreeks 11:25 op hul SOS-groep die boodskap kry dat daar ’n ongeluk was op die Loskopdampad, sowat 30 kilometer buite Middelburg.
“Rudolph het oor ’n blinde hoogte gekom en ’n bees getref.”

Sy onthou hoe daar ’n vrou, wat sy “Engel Hannelie” noem, by Rudolph gesit het en sy hand vasgehou het.
Die motorfietsryers wat op die toneel aangekom het, het dadelik hande gevat en vir Rudolph gebid.
Hy is per ambulans na die Life Midmed Hospitaal geneem, waar hy gestabiliseer is en die aand per helikopter na Milpark oorgeplaas is.

“Die dokters en personeel, die hele span van Midmed. was uitstekend! Ek is die hele tyd op hoogte gehou van sy toestand. Hulle het ook aanbeveel dat hy gevlieg word weens die aard van sy beserings,” sê Sarie.
By Milpark is hy in die trauma intensiewe-eenheid opgeneem.
• Rudolph het gister soveel beter gevoel dat hy ’n video gemaak het om almal te bedank vir hul ondersteuning.

Sarie het ook elke persoon, van die motorfietsryers van die verskillende klubs, tot familie en vriende bedank vir hul hulp en ondersteuning.
• Die Middelburg Dierebeskermingsvereniging is gekontak om die bees te kom uitsit, maar hy het binne minute na die ongeluk gevrek.
• Daar is verneem dat daar op 24 Mei op presies dieselfde plek nog ’n ernstige ongeluk was waar ’n voertuig ook ’n bees getref het.

