Inbreker gebruik wasgoedpennetjie om deur oop te maak
Dief steel vir meer as twee ure, terwyl vrou in huis lê en slaap.

’n Inbreker het vanoggend in die vroeë oggendure duisende rande se kantoor- en huisware gesteel, asook ’n bergfiets wat groot sentimentele waarde het.
“Hy kon alles gevat het, as hy net my oorlede man, Dirk, se fiets gelos het. Maar hulle het geen sentimentele waarde aan goed nie!”
Me. Jackie Rademeyer was geskok toe sy vanoggend wakker word en sien daar is by haar kantoor en huis (langs mekaar) in John Magagulastraat (Groenkol) ingebreek.
Wat haar die meeste omkrap, is dat sy op ’n stadium na buite is om haar honde uit te vat.
“Die honde was seker so by 03:00 se kant onrustig en het ek gedink hulle wil ’n draai gaan loop. Hy moes in die donker weggekruip het terwyl ek met die honde daar gestaan het.”

Sy onthou hoe haar honde, ’n labrador en twee yorkshire terriërs om haar gedraai het, so asof hulle haar wou probeer beskerm.
“Dit is skrikwekkend. Ek kan nie verduidelik hoe ek voel nie. Ek sidder as ek dink aan wat kon gebeur het…wat alles verkeerd kon geloop het.”
Op haar huis se CCTV Videomateriaal het sy gesien dat die boef vanaf 02:10 tot kort voor 04:00 besig was om alles uit te dra.
“Hy het ingekom en aangegaan asof hy in ’n kettingwinkel was, so het hy alles na buite gedra.”
Me. Rademan sê dat sy op ’n stadium op die videomateriaal kon sien hy vryf sy kop. “Asof hy gewonder het of hy die regte ding doen!”
Sy dink nie hy het geweet daar is CCTV-kameras nie, want hy het net aan die begin koes-koes die erf ingekom, vanwaar hy van ’n buurerf oor die muur gespring het.
Die videomateriaal wys dat hy elke keer alleen ingekom het om nog buit uit te dra, maar sy is seker dat iemand aan die anderkant van die muur die gesteelde artikels aangevat het.
Wat haar baie senuweeagtig maak, is hoe verspot maklik hy ingebreek het by haar kantoor.
“Die polisie het my gewys hoe hy met ’n wasgoedpennetjie die deur oopforseer het! Hy het die wasgoedpennietjie vir ons agtergelaat!”

In die kantoor het hy alles wat van waarde was, gevat, van ’n rekenaar tot skootrekenaars, baadjies en ander artikels.
By die gedeelte van die huis waar hy ingegaan het, het hy ander toerusting soos die fiets, ’n kantsnyer en ’n druksproeier gevat.
Weens veiligheidshekke kon hy gelukkig nie toegang kry tot die area waar me. Rademan gelê en slaap het nie.
Hulle het net so vinnig gekyk en die skade van artikels wat gesteel is, word op hierdie stadium al op R60 000 geraam.

Sy het van vroeg vanoggend af begin om haar sekuriteit by die huis nóg meer op te skerp.
Buiten elektriese omheining en buite-alarm-ogies, het sy ook klaar uitgevind waar sy opgeleide kwaai honde kan bekom.
• Me. Rademan se man, Dirkie, het in Julie 2021 weens nagevolge van die Covid 19 virus gesterf.
Hy was in vele mense se oë ’n held nadat hy sy bed in die intensiewe eenheid opgegee het om ’n ander pasiënt se lewe te red.
’n Paar dae later is hy oorlede.
Lees meer hier:
https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2021/07/24/rugby-kaptein-se-pa-sterf-weens-covid/
