Phoenix beleef paranormale aktiwiteite by Botshabelo
Van die eens pragtige toerisme-aantreklikheid met sy historiese huisies en meubels uit die vorige eeu het daar nou van Botshabelo net ’n spookdorp oorgebly.

Die span van Phoenix Paranormal SA het Botshabelo besoek en dit is hartseer oor die verval van die terreinmuseum.
In ’n artikel wat een van hul lede, Charmain Roos, geskryf het saam met foto’s wat geneem is tydens hul besoek, het sy gesê hoe die verval van Botshabelo hulle geraak het.
Sy het gesê dat geboue, wat tot 2 000 toeriste per dag gelok het, nou leeg staan, die sendinggeboue se deure gesluit is, bome deur trappe groei en mure verkrummel.

Die span van Phoenix Paranormal SA is besig om bekende gesigte te raak in die omgewing, nadat hulle twee jaar gelede die spookhuis op die Langkloofplaas besoek het.
Onlangs was hulle by die Middelburg Stasie en die Oregan Place Gastehuis.
Op hul Facebookblad kan die video gesien word wat hulle by die Middelburg Stasie gevind het met hulle spesiale toerusting.
Die groep wat Botshabelo besoek het, is Arno du Toit (hoofondersoeker) saam met ander ondersoekers Jannie van Rooyen, Divan van Rooyen, JP Jordaan, Hennie van Niekerk, Mauritz Pelser en Ricky van Rooyen.

Hulle wou nie te veel uitlap nie en het gesê dat ’n video binne die volgende twee of drie weke beskikbaar gestel sal word, omdat daar nog deur baie opnames gewerk word.
Hulle het erken dat “sommige persoonlike ervarings gehad het”.
Of daar wel spoke of gedaantes of ander paranormale aktwiteite met die kameras opgetel is, sal lesers eers kan sien, sodra hulle die video beskikbaar stel.
Daar is egter wel gesê dat daar meer paranormale aktiwiteite by Botshabelo as by die Middelburg Stasie ervaar is.

• Charmain het genoem dat hulle “mal is oor die geskiedenis van Middelburg en beslis weer sal kom kuier!”
• Sy het goedgunstiglik die foto’s wat geneem is by Botshabelo beskikbaar gestel vir publikasie.
• Daar is ’n Tik Tok video wat tans die rondte doen van Botshabelo wat onder andere sê dat dit een van die mees “haunted places” is in die land.
Dit is egter nie een van Phoenix Paranormal se videos nie.

