Aquila die luiperd en sy ‘meisies’ gelukkig in nuwe kamp
Aquila die mannetjiesluiperd by Ubhetyan Wildreservaat loop rond soos ’n kat wat room gekry het met twee wyfies as geselskap.
Boonop is hy onlangs na ’n groter, drie hektaar kamp geskuif, waar hy die kattekoning van sy harem gaan wees.
Deon Cornelius (Ubhetyan) sê hy het drie weke gelede vir Aquila en sy wyfies na die groter kamp geskuif. Twee van die ander luiperdmannetjies is ook na ’n ander kamp geneem.
Hy vertel dat Aquila ’n besondere verhaal het.

Aquila is in aanhouding gebore en sy ma het hom verwerp.
“Hy het by ons aangekom toe hy net drie weke oud was.”
Die luiperd het baie gou ingeburger by Ubhetyan en is nou die baas van die plaas.
Hy het vanaf baba-ouderdom ’n spesiale liefde vir Deon gehad en met die skuif is videos geneem waar hy teen Deon skuur en interaksie met hom het.
Deon stel dit egter duidelik dat daar nou byna geen fisiese kontak met Aquila sal wees in die groter kamp nie en hy weer heeltemal wild sal raak saam met die wyfies.

• Tydens die skuifproses was die vroue van die ‘Bush Babes’ bewaringsgroep, asook buitelandse veeartseny studente onder die vaandel van Eco Life by Ubhetyan.
Prof. Wouter van der Hoven is aan die stuur van sake by Eco Life en stuur gereeld buitelandse veeartseny studente na Ubhetyan, waar Deon hulle inlig oor rehabilitasieprosesse.
Die ‘Bush Babes’-bewaringsgroep en die veeartseny studente het hand bygesit met die ontwurmings- en inenting inspuitings voor hulle weer wakker gemaak en in die nuwe kampe losgelaat is.
