Die Comrades marathon is nie ’n wedloop nie, dit is meer, iets groter…onbeskryflik…
Daar is niemand beter om oor die grootse ervaring te praat as dominee Marco Koch nie.
Dié oudleerling van HTS Middelburg is deesdae predikant by NG Tygerpoort.
Hy het saam met sy pa Hein en boeties Heinrich en Johan die 2011 Comrades voltooi.

Hy skryf: “Drie dae na my 21ste verjaardag, op 29 Mei 2011, het ek die voorreg gehad om saam met my pa en twee broers die Comrades Marathon te hardloop. My eerste, maar my pa (Hein Koch) se 22ste. Ek sou vir geen beter oorgangsritueel kon vra in my mondigwording as om hierdie stryd saam met die manne naaste aan my hart aan te pak nie.
Jou beurt kom ook
“Ons vier het saam weggespring en – teen alle verwagtinge – saam gebly tot op die einde. Dit klink eenvoudig, maar in 90 kilometer gebeur iets met ’n mens. Daar is altyd iemand wat swaar kry. Iemand vir wie jy moet wag. Iemand wat moed nodig het. Partykeer raak dit frustrerend, maar diep binne weet jy: jou beurt kom ook.
“Ek het al gehoor van “hitting the wall”, maar wat ek beleef het, was eerder “hitting the ditch”. Daai donker plek waar jou lyf leeg is en selfs “mind over matter” nie meer werk nie. Dis asof iets anders moet oorneem – iets dieper, amper geestelik. In daardie oomblikke was dit alles; om te weet iemand het jou – regtig het jou – in jou donkerste tye. En nog meer, om te weet jy kan iemand anders dra wanneer hulle daar beland.

“Buiten my pa en broers se ondersteuning, het iets anders my getref: ’n groter familie. Met duisende hardlopers en ondersteuners langs die pad, is jy nooit alleen nie. Anders as ander wedlope waar die veld uitmekaar trek, voel hierdie een soos ’n rivier. Jy hardloop nie meer nie – jy dryf saam. Jou bene gee in, maar die stroom dra jou. Jy word deel van iets groter as jouself.
Dit is meer as net ’n bucket list
“En dan, 90 kilometer in – twee marathons en ’n parkrun later – tref dit jou. Nie net die pyn nie, maar die gewig van alles: die mense langs jou, die pad agter jou, die gesig van jou pa en broers wat nog saam met jou beweeg. Dis rou emosie. Dis moegheid en dankbaarheid is iets wat jy nie mooi in woorde kan sit nie.
“My raad aan enigiemand wat hierdie wedloop oorweeg: moenie vir jou voete kyk nie. Kyk op! Hou jou kop bo water. Bly in die stroom. Bly uit jou eie kop uit. Praat met mense, vertel grappies, dans saam met die musiek by die waterpunte. Want uiteindelik gaan dit nie net oor hardloop nie – dit gaan oor saam dra, saam swaarkry, saam huil en saam klaar maak. Maar bo alles, saam lag… want om eerlik te wees: hierdie 90km wedloop is belaglik. Maar dit doen iets aan jou. Dit is meer as net ’n bucket list. Dit is ’n oorgang. Die lewe sal nooit weer dieselfde wees nie…”.
- Die Comrades marathon vind eerskomende Sondag vanaf Durban Na Pietermaritzburg plaas en is die sogenaamde opwedloop.
Lees ook: Dit is nie Comrades nie, dit is ’n familie kameraad
