News

Dwayne ruk sy lewe reg

Terwyl hy ronddraf om voertuie te wys waar om te parkeer en om uit te ry, vertel Dwayne Coetzee (26) hoe hy die stukke van sy lewe weer opgetel het.

Ja, hy het dwelms gebruik en ja hy was in die tronk, maar met die hulp van die Dagpatrollie het hy oor begin.

“Ek is klaar met dwelms tannie. Ek gaan nie weer strate toe nie. Die tronk was my rehabilitasie en die Dagpatrollie het my deel van hul familie gemaak,” vertel hy met ’n glimlag en draf weer om ’n voertuig veilig uit ’n parkering te help by die Arrie Nel Apteek.

Dwayne is op 15 al uit die skool uit en sy hele lewe het in duie gestort met die dood van sy ma.

Hy kon nie “regkom” met sy pa se nuwe familie nie en het by ander familie gaan bly. Maar op 19 het hy sy sak gepak en straat toe getrek.

Terwyl hy saam met die ander haweloses en verslaafdes gebly het, het hy gesien hoe hulle dwelms gebruik.
Uit pure nuuskierigheid het hy binne ’n maand self begin eksperimenteer.

“Ek het eers crystal meth (kristal metamfetamien) en toe Thai (heroïne) gebruik. Ek was dadelik verslaaf.”
Hy het sy dwelms in die Irak Taxistaanplek gekoop.

Om dwelms te koop, kos egter geld en hy kon hom nie sover kry om te bedel nie.
Die eerste keer toe hy inbreek is hy gevang.

Dwayne is al ’n bekende gesig by die parkeerarea van die Arrie Nel Apteek in Eastdene waar hy voertuie in en uit die parkerings help.

“Ek was ’n jaar in die tronk. Dit was die tyd van die verhoor en vonnis ingesluit.”

Omdat niemand vir hom kom kuier het in die tronk nie, kon hy nooit dwelms in die hande kry nie.

“Die eerste maand was moeilik, want ek kon nie in die nagte slaap nie. Die geweldige pyn van die onttrekking was ook verskriklik. Dit het my oë oopgemaak en ek het vir myself gesê ek wil nie die lewe van verslawing hê nie.”

Wat hy wel van die tronk onthou, is dat dit vir hom “soos ’n hotel was. Ek het drie keer per dag kos gekry en daar was selfs televisie.”
In Oktober 2022 het hy uit die tronk gekom…terug strate toe.

“Ek wou nie so leef nie, dit is nie lekker op straat nie. Ek het aan en af weer begin gebruik, maar het nie weer gesteel nie, ek het oral los werkies begin doen.”
Arthur Hill van Dagpatrollie het hom genader in die omgewing van Bread ’n More.

“Oom Arthur hulle het vir ons klere en komberse gegee. Mense wat sê Dagpatrollie maak mense seer, weet nie waarvan hulle praat nie. Dit is ’n skop in hulle gesig.”

Nadat Dagpatrollie hom ’n paar keer genader het vir hulp, het Dwayne besluit hy wil sy straatlewe finaal afskud en het die helpende hand aanvaar.
“As dit nie vir oom Arthur hulle was nie, was ek nie hier nie.”

Dwayne is nou meer as twee maande vry van dwelms en doen sekuriteitswerk in die parkeerarea onder die vaandel van Dagpatrollie.

Hy vertel opgewonde dat hulle hom gehelp het met blyplek en om ’n fiets te koop om by die werk te kom. Dwayne spaar ook sy fooitjies wat hy kry om karre te reguleer, om vir hom ’n televisie te koop.

“Ek is van die straat afgehaal en ’n nuwe kans gegee. Ek gaan nooit weer terug nie.”

• Arthur het trots gesê dat hy “glo in Dwayne. Hy is soos ’n eie kind vir my.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button