News

Die swart hond se vernietigende byt

Selfmoorde en depressie het geweldig toegeneem in Middelburg en daar is vanaand (Dinsdag) om 18:00 ’n inligtingsessie oor depressie in die Jeugsaal van die Hervormde Kerk, Noord gemeente.

Talle selfdood gevalle het die dorp die afgelope tyd tot stilstand geruk.

Daar was die selfdood van die geliefde tennisafrigter, Charl Basson. Kort daarna die oudpolisieman Gerhard Rheeder en gister die dood van Reinhardt van Niekerk op ’n treinspoor en nog ander gevalle waar naasbestaandes versoek het dat die oorsaak van hulle geliefdes se dood nie bekend gemaak word nie.

Ds. Colin Hertzog van die Hervormde Kerk het verduidelik hoe belangrik hierdie inligtingsessie is vir persone en hul gesinne wat deur die “swart hond” (depressie) geteister word.

Hy hoop dat daar tydens die geleentheid ’n ondersteuningsgroep begin sal word vir mense wat nie net self in die donker put van depressie is nie, maar ook vir hulle gesinne.

Die temas rakende depressie wat vanaand bespreek sal word, sluit in:

Die gemeenskap word genooi om dié inligtingsessie by die Hervormde Kerk, Noord gemeente vanaand (Dinsdag) by te woon.

• Wat is dit?

• Wat kan ek daaraan doen?

• Hoe ondersteun ek iemand daarmee.

• Ds. Hertzog het Sondag tydens ’n erediens die tema van depressie aangeraak en die gemeente (en ook die res van die dorp) uitgenooi om vanaad die inligtingsessie by te woon.

“Depressie is nie ’n korttermyn gemoedsversteuring nie. Die persoon is vasgedraai in sy eie gedagtes en is dit belangrik dat ander hom moet help sodat die lig kan deurbreek.”

Hy het gemeld dat depressie ’n moeilike ding is, maar dat die stigma daaroor in vandag se tyd afgebreek word.

• Tydens die erediens het ds. Hertzog gelees uit die Klaagliedere van Jeremia (3:1-9 en 3:21-24) oor die moeilike tye en trauma wat die Israeliete deurgegaan het.

Hy het regdeur sy preek daarop gewys dat alhoewel die Bybel nie die woord depressie spesifiek gebruik nie, hulle, asook ander bekendes soos Job en Dawid ook waarskynlik depressief geraak het oor wat met hulle aan die gebeur is.

Hy het vertel van die charismatiese Winston Churchill, wat twee termyne die eerste minister was van Brittanje en 62 jaar ’n lid was van die Britse parlement.

“Hy het een ding gesê wat baie waar is en dit is dat jy die meester is van die woorde wat jy nog nie gesê het nie, maar ’n slaaf is van die woorde wat jy reeds gesê het.”

Alhoewel niemand weet of hy wel aan depressie gely het nie, het Churchill op sy dag ook donker tye deurgegaan.

“Hy het ook gesê: ‘If you are going through hell, keep going!”

Ds. Hertzog het uitgelig dat “ons moet weet dat swaarkry en emosionele laagtepunte nie beteken dat ons nie ’n toekoms het nie.”

Hy sê dit is goedkoop antwoorde om vir ’n persoon wat aan depressie ly, te sê “dat hy sy kop moet skoonkry of dit voor die kruis neer te lê”, want dit gaan nie die probleem oplos nie.

Hy vergelyk probleme wat van korte duur is, met ’n verkoue, maar depressie is in heel ’n ander graad en moet dit, soos longontsteking, intense hulp kry.

Tekens van depressie:

• Jy voel hopeloos oor die toekoms.

• Jy verloor belangstelling in die lewe.

• Jy is gereeld moeg en het slaapsteurnisse.

• Jy is angstig.

• Jy raak maklik geïrriteerd.

• Jou eetpatrone verander en moontlik ook jou gewig.

• Jy kry nie jou emosies beheer nie.

• Jy dink meer as altyd oor die dood.

Wat gedoen kan word om met depressie te help:

• Vind die woorde om die probleem te beskryf. “Die Bybelskrywers het hul gemoedstoestand in woorde omgesit.”

• Praat met God oor jou toestand. “Moenie net met God praat nie, maar worstel en stoei met Hom daaroor. Hy sal nie uitpraat nie.”

• Praat met ander mense daaroor. “Hulle worstel ook met probleme en kan ptaay oor seer en oor hoop.”

• Kies ten minste een ding om te doen. “Klein besluite, lei tot groter besluite, wat lei tot hoop en ’n normale lewe. Kies om die groot olifant in jou lewe stukkie vir stukkie op te eet.”

• Kies om gesond te begin lewe, bietjie te oefen, reg te eet.

• Kies om nie te isoleer nie.

“As God vir perfekte mense sou sterf, sou Sy dood aan die kruis verniet gewees het. Hy het gesterf vir mense soos jy en ek. Mense met foute, wat worstel, wat soos swakkelinge voel. Omdat Hy vir ons gesterf het, het Hy ons nie verwerp nie. Kom ons kies om hierdie hoop ons eie te maak.”

• Persone wat nie die preek bygewoon het nie kan dit hier sien:

 

Lees ook:

Skok na skielike afsterwe van tennisafrigter

Bekende oudpolisieman neem sy eie lewe

Man wat op treinspoor gekry is was ’n bekende rugby afrigter

Back to top button