Vrou verdwyn met man se kar en skootrekenaar
Toe die slagoffer wakker word was hy in sy eie woonstel toegesluit, en die vrou wie hy wou help is fort met sy besittings.

Carmen Leigh White-Sharpley (47), die vrou wat gesoek word vir die verdwyning van ’n kar, selfoon en skootrekenaar vanaf die Moddercourt Woonstelle vanoggend, het in WhatsApp boodskappe erken dat sy die kar gevat het.
Mnr. Koos van Staden (60) se kar, al sy huissleutels en ’n skootrekenaar het verdwyn nadat hy en Carmen gisteraand saam was.
’n Familielid van mnr. Van Staden het talle WhatsApp-boodskappe wat gestuur is tussen hulle en Carmen vir ’n Middelburg Observer joernalis gestuur, waarin sy erken dat sy die kar het en dat hy alles sal terugkry.
Sy het mnr. Van Staden se selfoon en het vir die familielid per WhatsApp gesê: “Al sy goed sal teruggaan na hom nie. Dis ’n belofte wat ek aan u maak.”
Daar is ook gesê: “Al sy goed is 100 veilig. Vat glad nie meer iets nie. Maar God weet. Hy het toestemming gegee. Dis ver. Ek kan nie terug Middelburg toe gaan nie. Dis ver.”
Dit blyk dat sy saam met iemand in die kar is, want sy skryf ook dat sy sal laat weet wanneer die persoon saam met wie sy is, teruggaan Middelburg toe.
Die familielid het haar van diefstal en dwelmgebruik beskuldig en haar antwoord daarop was: “Onthou: innocent until proven guilty.”
Daarna het sy gesê dat sy nie ’n laaier vir die selfoon het nie en die selfoon gaan afsit.
Die joernalis het ook die nommer gebel, maar die foon was reeds af.
• Mnr. Van Staden se dogter, Silvia, sê sy het net een keer die vrou by haar pa gesien toe sy vir hom sy waterbottels gaan aflewer het.
Na die gebeure van vanoggend, het sy eers gehoor dat hy Carmen van die straat af gehaal het om haar te help en dat sy die afgelope twee weke by hom gebly het.
Sy was klaarblyklik voorheen op dwelms.
Mnr. Van Staden het ook ’n dag of twee terug geld by familie geleen om vir haar ’n geskenk te koop, want Carmen het vir hom vertel dat sy gister verjaar.
Die twee het gisteraand gebraai en ook verjaardagkoek geëet.
Later die aand het hulle stry gekry en het mnr. Van Staden gaan slaap.
Toe hy vanoggend wakker word, was hy toegesluit in sy woonstel. Boonop was sy kar, sy selfoon en sy skootrekenaar weg.
“Ek het groot geskrik toe my pa by my werk aankom met ’n geleentheid en vertel hoe hy gesukkel het om uit sy woonstel te kom.”
Mnr. Van Staden kon ook nie bel vir hulp nie, omdat sy selfoon weg is.
Die polisie en die familie wou die CCTV-videomateriaal by die woonstelkompleks nagaan, maar daar is gevind dat die kamerastelsel ontkoppel is.
• Die voertuig wat weg is, is ’n wit Ford Fiësta met swart wielvellings (Mags), registrasienommer JGT417MP.
As enige persoon die voertuig opmerk, kan hulle Silvia bel by 082 622 5081, wat die inligting dan aan die polisie sal gee.
• Die Observer het in 2017 ook verskeie berigte oor Carmen gedoen toe sy by gastehuise oorgeslaap het en nie betaal het nie.
Sy het haar destyds voorgedoen as Carien Dee.
Carmen is destyds gekontak vir kommentaar en het erken dat sy dit gedoen het, maar in die hospitaal is en nie kans gehad het om hulle te betaal nie. Sy wou hê die joernalis moes die gastehuise bel om reëlings met die eienaars te tref.
• Daarna het familie die koerant gebel en gesê dat sy “al van skooldae af leuens vertel het.”
Verskeie ander bewerings is ook teen haar gemaak.
Toe ons haar weer wou konfronteer, was haar foon af en het sy spoorloos verdwyn.
Lees ook: