GRAFIESE INHOUD: uBhetyan o Africa se hiëna, eis nog ’n pond vleis
’n Hiëna se byt is byna net so erg as die van ’n krokodil.
uBhetyan o Africa eienaar, Deon Cornelius, het nog ’n vinger verloor nadat hy deur ’n hiëna gebyt is.
Die vinger is gisteraand tydens ’n operasie teen die hand geamputeer, nadat hy twee weke gelede ook sy middelvinger by die eerste lit verloor het nadat sy hiëna Ed hom beetgekry het.
Cornelius, wat regshandig is, sê hy het geweet dat die vinger in die slag gaan bly, al het die dokter die ringvinger probeer red.
Die middelvinger is morsaf gebyt en daar was geen salf te smeer nie.
Cornelius was besig om aan die elektriese heining in Ed se kamp te werk toe die hiëna skielik begin aandag soek het.
Ed is hans grootgemaak en het nog nooit vantevore aggressief teenoor Cornelius of sy vrou, Susan, opgetree nie.

Cornelius sê dat Ed gereeld aan die drade in sy kamp kou en dat hy gereeld herstelwerk moet doen.
Ed het oudergewoonte teen hom begin skuur vir aandag.
“Ek het Ed weg gestoot waarvan hy duidelik nie gehou het nie, en toe byt hy.”
Hy is Life Midmed Hospitaal toe waar die middelvinger dadelik geamputeer is.
Die ringvinger het egter ook erg seer gekry.
Die dokter het aanvanklik ’n diep sny aan die vinger gemaak om infeksie te help beheer.
Dit was egter nie suksesvol nie.
Cornelius sê hy is eintlik half verlig die vinger is af.
“Ek het geweldige pyn gehad die afgelope tyd,” sê hy.
Aldus Cornelius het die dokter nie die ringvinger afgesit nie, “omdat ek net vir die middelvinger geteken het,” lag hy.

Hy sê hy het vinnig daaraan gewoon geraak om sonder meer as die helfte van sy middelvinger klaar te kom.
Gelukkig is Cornelius regshandig “so ek hoef darem nie te leer om weer te skryf nie,” skerts hy.
Hy sê dat hy nog nie die “spooksensasie” beleef het nie, wat behels dat jy ledemate voel wat nie daar is nie.
Ed het onlangs sy wyfie verloor en sedertdien soek hy meer aandag as tevore.
“Ons kyk daarna om hom by ’n teelprogram by Bela Bela in te skakel, met ’n deel in die aanwas,” sê Cornelius.
As die teelprogram egter nie realiseer nie, sal ’n wyfie vir Ed gekry word, maar dis ’n duur kopie.
“Not te donder,” sê Cornelius op die vraag of hy nie eens ’n bietjie kwaad is vir Ed nie.
“Hoe kan jy nou kwaad wees vir daai gesig,” sê-vra hy oor die hiëna met ’n gesig waarvoor net ’n ma kan lief wees.
Natuurlik het Ed die hele petalje afgelag soos hiëna se kind maar doen.
Lees ook:
Waarskuwing grafiese inhoud: Foto’s wys krokodil se wrede aanval
