News

Dagpatrollie red Smurfie van straatlewe

Soms is 'n ware verhaal baie beter as 'n sprokie en is die Smurfie en die Dagpatrollie storie een van daardie verhale.

Smurfie, ‘n baba poolhond (Husky) het verdwyn vanaf Erembeestraat (Mineralia) en was die Labuschagné gesin rasend van bekommernis.

Die Dagpatrollie het die Facebookplasing gesien en soos superhelde op en af deur die strate gery om te kyk of hulle nie vir Smurfie kon opspoor nie.

Arthur Hill (Dagpatrollie) sê hulle het gister laatmiddag haweloses agter Bloekomsig gesien wat ‘n hondjie, wat die beskrywing gepas het, by hulle het.

Arthur meld dat die haweloses nie die hond vir hulle wou gee sonder vergoeding nie. Hy wou egter nie die dier by hulle los nie en moes die R500 opdok wat hulle wou hê.

Hy en sy vrou, Louise, het die hondjie gebad en ontvlooi en deur die nag rustig gehou, waarna hulle hom vanmiddag aan me. Labuschagnè oorhandig het.

Sy het met trane in haar oë die Dagpatrollie bedank wat die hond opgespoor het.

  • Al is Smurfie nie blou soos die sprokiekarakters wat die kinders ken nie, het die mannetjie net sulke blou oë soos hulle en gaan hy vanaand snoesig by sy mensemaats kan slaap (en het hierdie mooi verhaal van Smurfie net soos enige ander sprokie ‘n gelukkige einde).
  • Dit is nie die eerste keer dat die Dagpatrollie ‘n hond van ‘n straatlewe gered het nie.

In Maart 2023 het hulle vir Kylie in Avalon gaan terugkoop, nadat ‘n dwelmverslaafde die hond aan ‘n taxi-eienaar verkwansel het.

Lees meer hier:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2023/03/03/dagpatrollie-bring-kylie-huistoe/

Net ‘n paar maande later, het hulle vir Tank opgespoor en aan sy regmatige eienaar terugbesorg.

Lees meer hier:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2023/04/12/hond-aan-boom-met-kabel-vasgemaak-2/

Arthur Hill van die Dagpatrollie het reageer op hierdie Facebookplasing, Middelburg se strate deursoek en die hondjie opgespoor.

 
Back to top button