Leer ken die nuwe Mev. Nkangala, Naomi Steenkamp

Ons nuwe mev. Nkangala, Naomi Steenkamp, is 'n nederige vrou met haar voete vas op die grond.

Sy is in 2023 gekroon as Mev. Middelburg en is pas ook aangewys as Mev. Nkangala.

Naomi vertel dat sy nie in haar wildste drome gedink het dat sy so-iets sou aanpak nie, maar dat sy hierdie nuwe verantwoordelikheid uit die staanspoor aangepak het om ‘n verskil te maak in mense- en ook dierelewens.

Reeds sedert haar kroning as Mev. Middelburg het sy al ‘n paar projekte aangepak, soos die vrolike stapgeleentheid met honde by Rustique, waar sy fondse ingesamel het vir Middelburg Feral Cats, die Dierebeskermingsvereniging en die Suid-Afrikaanse Dierekanker Organisasie (SAACA).

Die hooffokus in haar jaar as Mev. Nkangala is om as die ambassadeur vir die genoemde diere-organisasie, verskeie projekte te doen vir die bewusmaking van dierekankers.

Met die fondse wat ingesamel word, is die plan om ‘n skanderingsmasjien te koop vir Onderstepoort, sodat dierekankers vroeër opgespoor kan word.

Die fondse sal ook aangewend word vir navorsing en opleiding by Onderstepoort. Vir enige inligting besoek die SA Dierekanker Organisasie se webtuiste by www.saaca.org.za.

“Dierekankers is nie welbekend nie, en daarom wil ons navorsing verbeter. SAACA is een van vier dierekanker organisasies in die wêreld. Hulle fokus is nie net op troeteldiere nie maar ook op wilde diere.”

Ter stuwing van hul fondse, bring sy op 22 Junie die gewilde Hannon na Middelburg. Kaartjies beloop R120 per persoon en is beskikbaar by www.quicket.co.za.

Hannon is op 22 Junie in Middelburg.

Buiten die genoemde organisasie, ondersteun sy ook die Arrayah Sentrum met Spesiale Behoeftes vir wie sy op 17 April (Woensdag) om 18:00 ‘n nagwedloop van 4.9km aanbied. Inskrywings is R50 per persoon.

Sy vra dat almal wat gaan deelneem, blou sal aantrek ter bewusmaking van outisme.

Daar is Woensdag ‘n pretloop ten bate van die Arrayah Sentrum.

Haar planne eindig nie daar nie. Daar gaan nóg pretlope met honde gehou word.

Sy beplan om ook in Vrouemaand (Augustus) ‘n “Queen of the Pot” kompetisie saam met Chris Batts, van Hi5 Radiostasie, vir die diere-organisasie te hou.

Daarna volg die Sportbra-projek in Oktober saam met verskeie rolspelers ten bate van borskanker. Daar sal punte wees waar die bra’s afgegee kan word. Hierdie bra’s word aan jong meisies geskenk wat dit nie kan bekostig om te koop nie.

Sy wil getroude vroue inspireer.

“My vraag aan elke getroude vrou daarbuite is: ‘hoe goed ken jy jouself, hoe gelukkig is jy en is jy ten volle vervul?’

Naomi sê elke vrou verdien dit om mooi en geliefd te voel. “Vind dit waarvoor jy lief is en jaag dit 150% na.”

Sy noem dat sy as vrou geweldig gegroei het in die paar maande wat sy die kroon gedra het as Mev. Middelburg.

“Geleenthede is onbeperk. Glo in jouself, wees lief vir jouself, vertrou jouself en aanvaar jouself. Al het jy ‘n voller figuur, of al is jy rietskraal, jy is beautiful.”

Volgens Naomi vertrap vroue mekaar soms, omdat jaloesie en afguns ‘n groot rol speel. “Wat het ons om te verloor as ons mekaar eerder ondersteun en dra? God het ons gemaak as die skoner geslag en elke vrou is pragtig.”

Noami wil vroue uitdaag om nooit moed op te gee nie.

“‘n Vrou is die sement van haar gesin, maar ons is geneig om as ma en vrou onsself op te offer en van onsself te vergeet. Onthou jy is ook belangrik. Vind weer jou liefde en passie as jy dit iewers verloor het en leef dit ten volle uit. Groei in jou menswees, daag jouself uit en sprei jou vlerke!”

Volg Naomi se projekte op Facebook by “Naomi Steenkamp” of “Naomi Steenkamp – Mrs Middelburg 2023 of Mrs Nkangala International Village 2024”, asook op haar Intagram by “naomistee” of “steenkamp_naomi” of bel haar by 064 968 5665.

Exit mobile version