News

Die Roos is dood, lank lewe die Roos…

Op 29 April is een van Suid-Afrika se beste boksers ooit, Dingaan Thobela (57), dood in sy Soweto wooneenheid gekry.

Die oorsaak van sy dood is nooit bekend gemaak nie.’

Vir my sal die Roos altyd ’n soete herinnering bly.

Hier in 1989 is die Race Against Time op Secunda aangebied en lede van Oos-Transvaal Padhardlopersvereniging moes die liefdadigheidsbyeenkoms reël.
My werk was bemarking van die wedloop.

Het besluit om die kankerlyertjie Gerrie Marx, van Laerskool Koornfontein, te kry wat atletiek rekords laat spat het soos springmielies in ’n warm pan. Hy was ook ’n karateka en geliefd in die gemeenskap.

Gerrie het later blosend op televisie verskyn om ’n onderhoud met Bettie Kemp te voer.

Thobela het daardie jaar professioneel begin boks en dadelik boksliefhebbers laat regop sit met sy krytvernuf, pure Sugar Ray Leonard.

Thobela, the Rose of Soweto, het ingestem om aan die wedloop deel te neem.
Hy en sy afrigter, Norman Hlabane, het met ’n bus na Middelburg gereis en in die Midway Hotel oornag.

Wedloopdag vroegoggend het ek en swaer Danie Hartzenberg die twee gaan oplaai.
Thobela het almal verstom deur die 10 kilometer in 40 minute kaf te draf.

Gerrie het by die wegspring aangetree, maar kon net ’n kort rukkie saamdraf.

’n Spoggerige onthaal is na die tyd gehou waar Thobela ’n glasie sjampanje van die hand gewys het “omdat hy nog wêreldkampioen wou word.”

Op pad terug na Soweto was swaer Danie lus vir ’n germaanse drankie en het by elke dorpie gevra ons moet stop. Het vasgeskop met “ons gaan eers vir Dingaan aflaai.”

Toe ons Soweto binne ry met die swart BMW, die burgemeester van Middelburg se ou kar, het een na die ander begrafnisstoet voor ons verby gekruie.
Dingaan het vertel daar word Saterdae begrafnis gehou ”want in die week is daar nie tyd nie.”

Ons het Norman eerste afgelaai en daarna vir Dingaan. Hy het aangedring om met sy wit kar met rooi roos op die kant geteken, saam te ry.
“Ek gaan julle bottelstoor toe vat,” het hy aangebied.

Met boksliefhebbers wat hom oorval, het hy ook aangedring om die ses Black Label biere vir Danie uit die yskas te gaan haal.
En toe ons buite kom dring hy weer aan: “Ek vat julle highway toe.”

Daar langs die N12 groet ons mekaar hartlik…die Roos van Soweto in die truspieëltjie al waaiend toe ons wegry.

In 1990 word hy WBO wêreldkampioen.
Hy wen later nog twee wêreldtitels.

Gerrie wen nie sy wedloop teen tyd nie, hy sterf aan kanker.
Klein Gerrie wat altyd vir my gesê het: “Ek wil nie doodgaan nie, want dit is te lekker om te lewe.”

Danie neem sy eie lewe.

Op 9 Mei 2024 word Dingaan in die Westpark-begraafplaas ter ruste gelê.
Dieselfde begraafplaas waar my eerste redakteur, Leonard Neill, begrawe is. Hy was ook ’n boksskrywer.

’n Diens is vir Neill in die Nasrec-ouditorium gehou wat deur oud-bokser Hawk Makepula, gelei is.
Norman Hlanbane het ook die diens bygewoon.

Ons almal is in ’n reis teen tyd…sommige se tyd loop vroeg uit soos Gerrie, Danie en Dingaan…

Dit is die herinneringe wat agterbly.

En in my hart sal die Roos van Soweto altyd blom…

Back to top button