Mans wat ouetehuise teiken, slaan ook in Middelburg toe
Mans wat ‘goedkoop matte was’ by ouetehuise het toegeslaan by bejaardes se woonstelle en word juwele vermis
Die twee mans wat hulle voordoen as mat- en bekleedselwassers en na bewering dan juwele steel, het in Middelburg ook toegeslaan!
Daar is in verlede week berig dat die twee mans by die Rusoord in Belfast toegeslaan het. Daar was op daardie stadium reeds foto’s van die twee mans op groepe gedeel, maar kon ons nie hul gesigte wys nie, omdat dit onseker was waar die skermskote van CCTV Videomateriaal vandaan kom.
Lees ook: Mans was nie matte, maar steel
Selfde klere aangehad
Gister het die twee, nogal geklee in dieselfde klere as wat die ander twee aangehad het op die CCTV skermskote wat gedeel is, toegeslaan by die Oewersig Woonstelle (lewensreg-afdeling) by die SAVF Tehuis.
Hou bejaardes besig terwyl ander een in hul goed krap
Tannie Marie Visagie (82) sê die een man was “só vriendelik en behulpsaam, maar ek glo hy het ons net besig gehou, sodat die ander een in ons goed kon krap!” sê sy vies.
Sy is baie van haar juwele kwyt en is hartseer oor veral die artikels wat sentimentele waarde gehad het.
’n Paar vroue van Oewersig is gister na die SAVF Tehuis se Lentevieringe en met hul terugkeer het die mans sommer saam ingekom.
Nie toestemming gegee nie
Volgens SAVF Tehuisbestuurder, Bernice du Plessis, het die mans te kenne gegee dat hulle met die bestuur van die tehuis gereël het om in te gaan, maar sê dit is onwaar.
Die mans was baie vriendelike en het sommer daar en dan van die inwoners oorreed om hul gordyne en banke se bekleedsel te was.

“Hy het nog vir my gesê hoe mooi my sitkamerstel is!”
By een van die huise waar hulle gordyne gewas het, het hulle die ander laat kom om te kom ruik hoe lekker dit ruik.
Tannie Marie sê hulle het selfs die mans aan ander inwoners ook voorgestel, “want hy het gesê as hy 10 kliënte op ’n dag kry, dan kry hy ’n bonus!”
Was baie goedkoop
Boonop is dit baie goedkoop vir hulle aangebied.
“Dit sou ons R150 per woonstel kos vir gordyne én die was van die bekleedsel.”
Sy onthou ook dat hulle buite gaan sit het, omdat hulle nie in die pad wou wees van die mans nie.
“Die een man het selfs twee keer my selfoon vir my na buite gebring, toe ek dit elke keer binne gelos het.”
Tannie Marie het vir die mans koeldrank en pasteitjies gegee om te eet terwyl hulle gewerk het.
Sou vandag terugkom vir matte
Die mans het beloof om vandag terug te keer om die matte te kom was met hul industriële masjien en het ook ’n goedkoop bedrag gegee wat dit sou kos.
Nadat hulle weg is, het sy opgemerk dat die bottel waaruit sy vir hulle koeldrank gegooi het, weg is. Dit het haar nie aanvanklik gepla nie, want sy het gedink hulle was seker maar net dors na die harde werk.
In haar kamer het sy bekommerd geraak toe sy nie haar oorbelle sien, waar dit altyd is nie. “Ek het dit nog by my ma gekry.” Sy het egter vir ’n oomblik gedink dat sy dit dalk in haar kas in die sluitkassie gesit het.
Sy het op ’n stadium gisteraand besluit om die geld vir vandag se matwas solank uit te haal, want sy wou nie hê hulle moes sien waar sy haar sluitkassie, met sy verskillende laaitjies, wegsteek nie.
Dit was vir haar vreemd dat hy gesukkel het om oop te sluit, maar het gedink dit is oor al die papiere wat daar in is.
Toe sy egter verder tussen die laaitjies soek, het sy gesien vier van haar waardevolle ringe, wat in ’n spesiale boksie was, is weg.
Juwele het sentimentele waarde
“Een van die ringe het my man vir my gegee toe ons 40 jaar getroud was,” het sy hartseer gesê.
Tannie Marie meld dat sy in die sluitkassie ook Oewersig se fondsinsamelingsgeld gehad het. Met dié geld hou hulle die Oewersig tuine in stand.
“Almal gee elke maand R50 sodat ons kompos en saadjies en ander goedjies kan koop vir die tuin. Daar was R1 800 in. Hulle het dit ook gesteel!”
Sy weet dat daar ander juweelstukke by van die inwoners gesteel is, maar dat hulle nie sake geopen het nie.
